Tuesday 22 August 2017

Wildspastei uit Ouma se kombuis



Wildspastei uit Ouma se kombuis
Genoeg vir 2 pasteie
Bereidingstyd: 45 minute
Gaarmaaktyd: 6 uur vir die vulsel, 30 minute vir die klaar pastei
Oondtemperatuur: 120 °C, dan 200 °C en 180 °C
...
• 4 x 250 g-velle blaardeeg
• geklitste eier
VULSEL
• 250 g gerookte varkrepe, in blokkies gesny
• 1,5 kg springbokvleis, in blokkies gesny
• 1 kg springbok-“bene” (vra jou slagter vir die “off-cuts” en maak seker daar is nog stukkies vleis aan – rugstring, lieslappe en platrib werk goed)
• 4 salotte, grofgekap
• 4 middelslag-wortels, gesny
• 2 selderystingels, gesny
• 1 duim vars gemmer, gekap
• 1 rooi brandrissie, gekap
• 1 lourierblaar
• 3 takkies tiemie
• 2 stukke steranys
• 5 ml swartpeperkorrels
• 5 ml mosterdkorrels
• 5 ml koljandersaad
• 5 heel naeltjies
• 3 ml wonderpeper
• 125 ml tamatiepuree
• 750 ml rooiwyn
• 250 ml port
• 250 ml vleisaftreksel
• 25 ml meel
1. Sit al die vulselbestanddele behalwe die meel in ’n oondvaste bak met ’n noupassende deksel, bedek en sit in die oond teen 120 °C vir 6 uur. Bind die speserye toe in ’n moeselienbondeltjie sodat jy dit maklik agterna kan uithaal.
2. Vlok die vleis en verwyder al die bene. Giet die sous deur ’n sif in ’n klein kastrol en gooi die speserye en groente weg. Meng die meel met genoeg sous om ’n gladde pasta te vorm, skep by die sous en kook tot dik. Geur na smaak met sout en peper en giet oor die gevlokte vleis.
3. Voorverhit die oond tot 200 °C. Rol die helfte van die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit en rol dit effens dunner. Voer twee gesmeerde pasteibakke daarmee uit. Verdeel die afgekoelde vulsel tussen die korse en verf die rande met eier. Gebruik die ander helfte van die deeg om die vulsels mee te bedek en druk die kante van elke pastei se twee lae deeg met jou vingers of ’n vurk aan mekaar vas. Versier die pasteie met enige orige deeg en verf geklitste eier oor. Maak ’n stoomgaatjie of twee in die middel van elke pastei en bak vir sowat 10 minute, draai die hitte effens af na 180 °C en bak vir nog 20 minute of tot goudbruin en gaar.
(Tuis)