Thursday 11 May 2017

KONDENSMELK BESKUIT



KONDENSMELK BESKUIT
1 x 397 g blik kondensmelk
250 ml kookwater
125 g botter of margarien, in blokkies gesny
180 ml suiker...
2 eiers
250 ml koue water
11/2 pakkies kitsgis
1,25 kg koekmeel
10 ml sout
15 ml anyssaad (opsioneel)

Meng die kondensmelk, kookwater, botter of margarien en suiker saam tot die botter gesmelt en die suiker opgelos is. Klits die eiers en meng dit met die koue water. Voeg dit by die kondensmelkmengsel en sprinkel die gis oor. Roer liggies deur.

Sprinkel 250 g van die meel oor en meng deeglik. Bedek die bak losweg en laat staan op ’n warm plek vir ongeveer 1 uur tot die mengsel vol borreltjies bo-op is. Voeg die res van die meel, sout en anyssaad (indien gebruik) by en maak aan tot ’n deeg.

Knie die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak vir ongeveer 10 minute tot glad en elasties en tot dit nie meer aan jou hande vaskleef nie. Sit die bol deeg in ’n geoliede mengbak, bedek losweg en laat rys op ’n warm plek tot dit verdubbel het in volume. Voorverhit intussen die oond tot 180 °C en smeer 3-4 middelslag-broodpanne met botter of olie.

Knie die deeg af. Knyp gholfbal-grootte bolletjies deeg af en pak dit styf teen mekaar in die panne. Bedek die panne weer losweg en laat rys die deeg vir sowat 15-20 minute. Sit in die oond, draai dadelik die temperatuur af tot 160 °C en bak die beskuit tot goudbruin en deurgaar.

Keer uit, laat effens afkoel, en breek dan in stukkies. Pak op bakplate en droog uit teen 70 °C-100 °C of in die lou-oond. Laat staan tot dit kamertemperatuur bereik het en bêre in lugdigte houers. Lewer ses dosyn beskuit.