Friday 10 July 2015

Veelsydige tuisnywerheidskoek

tuisnywerheidkoek



Veelsydige tuisnywerheidskoek

Dié koek rys lekker hoog en met dieselfde resep kan jy ook ’n sjokolade- of lemoenkoek bak.

Lewer 1 koek
Bereiding: 10-15 minute
Baktyd: 20 minute
Koek
375 ml (1½ k) suiker
knippie sout
8 middelslageiers
30 ml (2 e) margarien
180 ml (¾ k) melk
60 ml (¼ k) olie
5 ml (1 t) vanieljegeursel
500 ml (2 k) koekmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
Ganache
300 g witsjokolade (Cadbury se Dream werk goed)
200 ml room
granaatpitte vir oorsprinkel (opsioneel)
  • Voorverhit die oond tot 180 °C
  • Spuit ’n vierkantige koekpan van 23cm met kossproei of smeer dit goed met margarien. Stuif met koekmeel.
  1. Koek Klits die suiker, sout en eiers sowat 8 minute baie goed saam tot lig en donsig.
  2. Smelt die margarien, melk, olie en vanieljegeursel 1 minuut saam in die mikrogolfoond.
  3. Sif die koekmeel en bakpoeier saam.
  4. Vou die meelmengsel by die eiermengsel in. Giet die melkmengsel by en vou goed deur. Giet in die pan en bak 20 minute of tot ’n toetspen skoon uit die middel van die koek kom. Laat effens in die panafkoel, keer uit en laat heeltemal afkoel.
  5. Ganache Smelt die sjokolade en room saam oor stadige hitte roer gereeld. Laat afkoel en klop gereeld tot dik.
  6. Smeer oor die koek en rond af met granaatpitte indien verkies.
  • Vir ’n sjokoladekoek vervang 125 ml (½ k) van die koekmeel met kakao. Vermeerder die bakpoeier tot 15 ml (3 t).
  • Vir ’n lemoenkoek vervang die vanieljegeursel met lemoengeursel en versier met gewone botterversiersel.
Dié koek kan ook in twee laagkoekpanne gebak word.