Monday 6 July 2015

Seslaagkoek met romerige sjokoladeversiering




Seslaagkoek met romerige sjokoladeversiering

Dié indrukwekkende koek is ’n spesiale bederfie. Moenie haastig wees wanneer jy dit aanmekaarsit nie en maak seker dat al die lae plat bo is voor jy begin.

Lewer 1 groot koek
Bereiding: 30 min
Baktyd: 35 min

KOEK
4 x 250 ml (4 k) meel
10 ml (2 t) bakpoeier
7,5 ml (1½ t) koeksoda
2 ml (½ t) sout
375 ml (1½ k) karringmelk of amasi
125 ml (½ k) olie
10 ml (2 t) vanieljegeursel
500 ml (2 k) strooisuiker
125 ml (½ k) bruinsuiker
250 ml (1 k) botter
6 eiergele
3 eiers

VERSIERSEL
200 g botter (kamertemperatuur)
4 x 250 ml (4 k) versiersuiker
125 ml (½ k) kakaopoeier
5 ml (1 t) vanielje-geursel
80 ml (⅓ k) karringmelk of amasi

1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer drie 23 cm-bakpanne met olie en voer uit met bakpapier.
2. Sif die meel, bakpoeier, koeksoda en sout saam in ’n bak.
3. Meng die karringmelk of amasi, olie en vanieljegeursel in ’n afsonderlike bak.
4. Klop die suikers en botter in ’n derde bak saam tot dit donsig is. Voeg die eiergele en eiers een-een by, klop goed en skraap die kante van die bak ná elke byvoeging. Voeg die karringmelk of amasi-mengsel by die bottermengsel. Vou die droë bestanddele in en maak seker daar bly geen klonte agter nie.
5. Verdeel die beslag tussen die voorbereide panne, sowat drie koppies per pan. Maak die bolae glad.
6. Bak 35 minute of tot die koeke goudbruin is en ’n toetspen skoon uit die middel kom.
7. Plaas die koekpanne op draadrakke en dit 30 minute in die pan afkoel.
8. Verwyder enigiets wat uitstaan bo-op elke koek met ’n getande mes om ’n plat oppervlak te verseker. Sny elke koek horisontaal in die helfte; maak weereens seker die oppervlak is plat.
9. Versiersel: Klits die botter, versiersuiker en kakaopoeier in ’n bak tot dit ’n gladde mengsel vorm. Voeg die vanieljegeursel en karringmelk of amasi by en klits tot die versiersel glad en romerig is.
10. Plaas een koek op ’n koekstander of bord. Skep 80 ml (⅓ k) versiersel bo-op en versprei eweredig met ’n strykmes of die agterkant van ’n lepel. Plaas nog ’n laag en versiering bo-op en herhaal tot al die lae bygevoeg is. Gebruik die oorblywende versiersel bo en langs die kante van die koek.