Wednesday 1 July 2015

INTERESSANTE HAWERMOUTPAP IN MIKROGOLF:




INTERESSANTE HAWERMOUTPAP IN MIKROGOLF:

Bestandele vir 1 porsie:
60 ml (¼ k) rou hawermout
150-180 ml koue water (afhangend van die konsistensie wat jy verkies)
knippie sout

Metode
Meng alles saam in ’n hittebestande houer of klein kastrolletjie. Mikrogolf vir 3-4 minute en roer deeglik. Herhaal met 3-4 minuut intervalle tot pap gaar is. Of roer dit oor matige hitte in ’n kastrolletjie tot dit liggies prut en gaar is. Hawermout kook vinnig en behoort binne ’n paar minute gaar te wees.
Sit hawermout voor met enige van die onderstaande voorstelle en eksperimenteer gerus met jou eie kombinasies van die idees hier onder. Met meeste van die idees is dit dan nie nodig om melk en suiker oor die pap te eet nie, veral as die pap nie te styf gemaak is nie.

Wenke:
1.Gebruik enige vars of droë vrugte van jou keuse om met die pap voor te sit.
2. Rosyntjies, gedroogde bosbessies (cranberries) of sultanas en enige sademengsel, is heerlik. Pampoensade is baie gesond en kinders hou dikwels van sonneblomsaad.
3. Ander bestanddele wat lekker afwisseling bring, is neute, gemaalde kaneel, heuning of ’n bietjie muesli.
4. Bessies soos aarbeie, bloubessies of frambose en druiwe, perskes, mango, peer of piesang is heerlik op hawermout. In die winter is sommige mense selfs lief vir gestoofde droëvrugte en kaneel.
5. ’n Lekker kombinasie: piesang, kaneel en ’n paar neute (of ’n bietjie heuning, as jy moet.)
6. Terloops: hawermout wat eers afgekoel het en dan weer warm gemaak word, se GI is selfs nog laer.