Tuesday 7 July 2015

Hoender-en-spinasie-lasagne




Hoender-en-spinasie-lasagne

Niemand sal weet dat dié ’n laervet-weergawe is nie. Onthou, dis beter om ’n klein bietjie hoëvet-kaas te gebruik as om ’n laevet-kaas te kies maar dan hope daarvan te gebruik.

Genoeg vir: 4-6
Bereidingstyd: 35 minute
Gaarmaaktyd: 45 minute
Oondtemperatuur: 180 oC

• 20 ml laevet-margarien
• 4 hoenderborsfilette, fyngekap
• 1 ui, gekap
• 1 knoffelhuisie, fyngedruk
• 1 groen soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
• 1 groot wortel, geskil en in klein blokkies gesny
• 2 selderystokkies, fyngekap
• 50 g tamatiepasta
• 1 blik gekapte tamaties
• 100 ml passata-sous of tamatiepuree
• 1 lourierblaar
• 1 pakkie gekapte spinasie
• 1 boksie laevet-pastavelle
• vars basilie vir garnering

Witsous• 100 ml laevet-margarien
• 150 ml meel
• 750 ml vetvrye melk
• 60-100 ml fyngerasperde parmesaankaas

1 Smelt die helfte van die margarien in ’n kastrol en braai die hoenderstukkies tot net gaar. Skep uit en hou eenkant.

2 Smelt die res van die margarien en soteer die ui tot sag. Voeg die knoffel, soetrissie, wortel en seldery by en soteer tot sag. Skep die hoender terug in die kastrol en voeg die tamatiepasta by. Roer goed. Voeg die gekapte tamaties, passata-sous en lourierblaar by en verhit tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat vir 30 minute prut. Roer gereeld.

3 Verhit ’n bietjie water in ’n kastrol. Voeg die spinasie by en laat vir ’n paar minute stoom tot die blare net verlep het. Skep dit uit die pan uit sodat dit nie verder kook nie.

4 Witsous Smelt die margarien en voeg die meel by. Roer met ’n draadklitser om ’n roux te vorm. Haal van die plaat af en voeg die melk bietjies-bietjies op ’n slag by – roer elke keer goed. Sit weer terug op die plaat en verhit tot kookpunt terwyl jy die heeltyd roer. Verlaag dan die hitte en laat vir 10 minute prut. Geur na smaak met sout en witpeper. Voeg die helfte van die kaas by en roer tot dit gesmelt het.

5 Skep ’n kwart van die tamatiemengsel in ’n mediumgrootte oondskottel. Skep ’n laag spinasie bo-op en gooi van die witsous oor. Pak ’n laag lasagne-velle bo-op en herhaal tot jy vier lae het. Moenie lasagne-velle op die boonste laag sit nie, maar eindig met omtrent ’n derde van die witsous. Sprinkel die res van die parmesaankaas oor en bak vir 45 minute in die verhitte oond. Laat vir vyf tot 10 minute staan. Garneer met vars basilie en sit voor met ’n vars slaai.