Tuesday 2 June 2015

Valerie gee raad vir partytjiekoek



Valerie gee raad vir partytjiekoek
Valerie Slabbert het in die kinderpartytjie-episode spesiale vermelding gekry vir die pragtige konstruksie en afwerking van haar Pinocchio-koek.
Het jy geweet droë spaghetti-stokkies kan jou help om ’n bobaas-partytjiekoek te skep? Of dat jy wit margarien aan jou hande kan smeer as die fondant te hard set om mee te werk? Valerie deel haar wenke en betroubare resepte waarmee sy haar partytjiekoeke bak.
Valerie
Die regte koek as basis
Kies die regte tipe koek. Indien jy ’n figuur uit die koek wil kerf, is dit beter om ’n stewiger sponskoek te gebruik wat sy vorm sal hou. Daarvoor is ’n Madeira-koek die mees geskikte resep.
Madeira-koek
Bestanddele:
340 g botter (kamertemperatuur)
340 g strooisuiker
6 groot eiers
400 g bruismeel
1 t vanieljegeursel
3 e karringmelk (opsioneel)
Metode:
Voorverhit die oond tot 150 grade Celsius. Smeer en voer ’n ronde koekpan (25 cm of 10 duim in deursnee) met bakpapier.
Plaas die botter, strooisuiker en vanieljegeursel in die mengbak van ’n elektriese klitser en gebruik die K-menger om die mengsel te klits tot liggeel en donsig. Voeg die eiers een vir een by saam met ’n eetlepel bruismeel terwyl die mengsel stadig geklits word. Skraap die kante skoon na elke eier wat bygevoeg is. Voeg karringmelk by. Vou die res van die bruismeel in by die mengsel. Skep in die voorbereide koekpan en maak ’n “holtetjie” met die agterkant van ’n metaallepel in die middel – dit help dat die koek gelyk bak.
Speel met fondant-klei
In Engels is fondant-klei bekend as “modelling paste”. Dit word gebruik om figuurtjies te maak wat hard word en hul vorm behou. Gebruik poeier of jel-kleursel om fondant (ook bekend as plastiese versiersel) te kleur – vloeibare kleursel sal die samestelling van die fondant verander.
Fondant-klei
10 ml CMC (2 teelepels – verkrygbaar by die meeste bakwinkels)
450 g fondant (plastiese versiersel)
Knie die CMC goed in by die fondant. Dit is dadelik gereed om gebruik te word.
Suikergom of eetbare gom
30 ml louwarm water
1.25 ml (1/4 teelepel) CMC-poeier
Los die CMC-poeier op in die louwarm water en roer. Ek gooi dit gewoonlik in ’n houertjie en gebruik ’n verfkwassie om dit aan te wend.
Waardevolle wenke
Gebruik stukkies droë spaghetti vir ondersteuning in die figuurtjies – dit is eetbaar (anders as tandestokkies), en is dus nie ’n krisis as jou 3-jarige dit eet met die ondersteuning in nie. Ek gebruik ook stukkies droë spaghetti om die figuurtjies in die koek self te druk, wat seker maak dit bly waar dit moet wees en val nie om nie.
Verdeel die fondant-klei in dele en kleur dit in die verskillende kleure wat jy nodig gaan hê vir die spesifieke figuurtjie wat jy wil maak. Hou dit dan in toebroodjiesakkies of maak dit toe met kleefplastiek op jou werksoppervlak, omdat lug dit laat uitdroog en hard word.
Indien dit te hard begin word om gemaklik mee te werk: Smeer jou hande met wit margarien en brei net weer die klei in jou hande – die vet saam met die hitte van jou hande sal dit weer bruikbaar en buigbaar maak.
Indien dit te taai is kan jy dit net vir ’n minuut of wat op die werkoppervlak los en dan sal dit weer stywer word. Indien jy byvoorbeeld armpies aan ’n figuurtjie plak, gebruik ’n stukkie droe spaghetti, sowel as die eetbare suikergom om seker te maak dit plak stewig en bly in posisie.
Rysvlokkie-mengsel
Indien jy ’n groter figuur-koek wil maak, is dit nuttig om ’n rysvlokkie- (rice crispie) mengsel te gebruik om byvoorbeeld die kop van te maak, en dan die lyf van koek. Die rysvlokkie-mengsel is heelwat ligter as koek. Jy smeer dit ook met botterversiersel voordat jy dit met fondant oortrek.
Bestanddele
50 g botter of margarien
200 g malvalekkers
160 g rysvlokkies
Metode
Smelt die botter of margarien saam met die malvalekkers oor ’n lae hitte. Voeg die rysvlokkies by en meng goed.
Wenke:
Laat die mengsel effens afkoel voordat jy die figuur of kop begin vorm.
Dit is egter belangrik om jou ondersteuning, bv. ’n sosatiestokkie, te gebruik as basis en die vorm rondom dit te vorm. Indien die mengsel reeds heeltemal afgekoel het of ’n ruk gestaan het, gaan dit uitmekaar spat wanneer jy ’n stokkie of strooitjie probeer indruk.
Druk die mengsel ook baie stewig vas – jy moet amper die rysvlokkies “krummel” tussen jou hande so hard moet jy dit vasdruk.
Dit kan ook gebruik word om bv. ’n hele figuur soos ’n teddiebeer te maak wat bo-op ’n koek kan sit.