Tuesday 2 June 2015

Gesond, maar net so lekker

Gesond Kinderpartytjies

Gesond, maar net so lekker

Hierdie week se episode van Koekedoor gaan oor kinderpartytjies – en wat is ’n partytjie dan nou sonder ’n indrukwekkende verjaardagkoek?
Dit is egter ook so dat partytjietafels kreun onder ’n suikeroordaad. Watter ouer was nog nie effe benoud aan die gedagte van ’n jong kind op ’n suiker rush nie?
“Mens kan reken dat dit net een maal per jaar geskied, maar wat van al die ander kinderpartytjies wat jou kind bywoon?” sê Idonette van Zyl, ’n geregistreerde dieetkundige van Potchefstroom.
Ouers kan begin om ’n verskil te maak an hul kind se gesondheid deur beter keuses uit te oefen tydens die beplanning en uitvoering van kinderpartytjies, sê Idonette. Sy gee ’n paar wenke vir hoe om jou kind se volgende partytjie ’n bietjie gesonder te maak – sonder om die pret te bederf.
• Wanneer dit kom by die verjaardagkoek is tuisgemaak altyd beter, al verg dit meer moeite; dan oefen jy beheer uit oor die bestandele.
• Voeg twee of drie gerasperde appels (met of sonder skil) by die koekmengsel: Dit dien as bindmiddel, versoeter, en dra by tot ’n hoër veselinhoud wat help met stadiger opname van al die suiker wat geëet word.
• Proe aan die mengsel vóór jy suiker byvoeg. Voeg by na smaak.
• Kakao kan gebruik word as geurmiddel, in plaas van sjokolade.
• Die vet (margarien of botter) in die koekmengsel kan vervang word met ekstrasuiwer (extra virgin) olyfolie, sonder dat die smaak geaffekteer word.
• Smeer ’n dun lagie versiersuiker oor die koek, in stede van ’n dik laag wat aangemaak is met margarien of botter.
• Versier met vars vrugte soos bessies of dadels (vars of gekook), eerder as hope kunsmatige lekkers.
• Voeg ook gesonder opsies by die tafel (nie net aartappelskyfies en lekkergoed nie!), soos vars druiwe, komkommerstafies, klein tamaties, neute, of tuisgemaakte springmielies. Dit is dalk nie tradisioneel die tendens nie, maar dit ís uitvoerbaar, sê Idonette. “Blootstelling aan gesonder keuses is waar verandering begin.”
• Lees produkte se etikette en kies lekkernye en soutighede met die minste bestanddele, soos die Lays-skyfies in die geel verpakking – daar is moontlik minder kleurstowwe, geurmiddels en preserveermiddels bygevoeg. Let ook op die hoeveelheid suiker of vet per porsie.
• Gee alternatiewe vir gaskoeldrank (wat oor die algemeen vyf teelepels suiker per 250 ml bevat) en aanmaakkoeldrank. Plaas water met glasies op die tafel, en sluit gesonder opsies in soos tuisgemaakte ystee en vars vrugtesap. Die vrugtesap kan ook verdun word, indien kinders vrylik toegang het daartoe en groot hoeveelhede inneem.