Tuesday 2 June 2015

Posjeer eiers só




Posjeer eiers só
Deur: Errieda du Toit, inhoudsvervaardiger: kos van Koekedoor
Dis nie net Koekedoor wat die wonder van die eier besing nie. Dink net aan die tradisionele sjefshoed. Elk van die100 voue in ’n sjefshoed, bekend as as “toque”, verteenwoodig ’n ander manier om ’n eier gaar te maak – iets wat net goeie sjefs kon doen.
Koninklike sjefs het onder mekaar gespog oor hoeveel maniere hulle ’n eier kon gaarmaak, waarvan die geposjeerde eier een was. ’n Slim sjef het selfs daaraan gedink om drywende eiland-nagereg te maak, wat behels dat jy ’n meringue-wolkie van geklitste eierwit in melk laat prut. Of jy kan die eier oopbreek en in water prut om oor ’n slaai of met roosterbrood te geniet.
C. Louis Leipoldt verwys na geposjeerde eiers as watereiers – ’n baie goeie beskrywing wat ek graag gebruik.
Sò posjeer jy eierwit (meringue) in melk:
• Verhit 2 koppies melk in ’n mediumkastrol oor matige hitte totdat dit net liggies prut.
• Klits 4 eierwitte tot skuimerig, gooi ’n knippie sout by en klits tot sagtepunt-stadium. Voeg ¼ koppie suiker geleidelik lepel vir lepel by, terwyl jy aanhou klits tot die meringue styf en blink is.
• Gebruik ’n groot ovaalvormige lepel en skep genoeg meringue (so groot soos twee eiers). Gebruik ’n ander groot lepel en skep die meringue versigtig oor van lepel na lepel, sodat dit ’n ovaalvorm maak.
• Plons die meringue-wolk in die melk, vorm vinnig nog ’n paar wolkies en posjeer (prut) saam in die melk vir sowat 1 minuut, draai dit om met ’n spatel en prut nog ’n minuut. Die skeppies sal mooi uitpof. Gebruik ’n gaatjieslepel en skep die meringue op ’n skoon kombuisdoek om te dreineer. Posjeer die res van die meringue-wolkies. Sodra almal klaar is, plaas op waspapier in die yskas tot jy dit nodig kry (nie langer as 3 ure nie).
Moenie skrik as die uitgepofte meringue wolkies effe kleiner raak as dit afkoel nie – dit gebeur!
Watereiers (Geposjeerde eiers):
Geposjeerde eiers is eiers wat oopgebreek en in water geprut word – eintlik niks meer daaraan as dit nie. Daar is egter soveel truuks vir die perfekte geposjeerde eier as wat daar voue in ’n sjefshoed is!
Ek deel graag my wenke: my towertruuks is witasyn by die water en ’n selfgemaakte maalkolk! Dit klink na ‘magic’ maar dis eintlik wetenskap: die asyn laat die eierwit gouer stol, en die eierwit maak minder drade. Die maalkolk hou die wit van die eier bymekaar tot dit stol.
Maak so:
• Verloor jou vrees: dis maklik om eiers te posjeer.
• Plaas ’n mediumgrootte kastrol met water op die plaat, voeg 50 ml witwynasyn by en bring water net tot ’n sagte prut. Werk met een eier op ’n slag.
• Gebruik ’n lepel en roer stadig in die middel van die kastrol om ’n klein maalkolk (vortex) te vorm. Plaas die eier in die maalkolk (nie plons van ’n hoogte af nie). So word die wit van die eier onmiddellik verswelg deur die kookwater en behou ’n ronder vorm. Posjeer 4 minute lank om die eierwit loperig te hou.
• Skep die eier versigtig met ’n gaatjieslepel uit, terwyl jy ’n skoon kombuislap in jou ander hand hou. Keer die eier daarop uit en laat dit dreineer op die doek. Druk baie liggies droog met ’n kombuishanddoek om van al die water ontslae te raak.
• Herhaal met die res van die eiers.
Nog ’n paar geheime:
• Gebruik vars eiers, want die wit is stewiger en maak nie die los drade nie.
• Breek die eier in ’n klein bakkie, wat dit makliker maak om dit liggies in die water te plaas.
• Moet NOOIT sout by die water sit nie. Dit laat die wit van die eier opbreek en dis beslis nie wat jy soek nie!
• Suurlemoen kan die asyn vervang, maar moenie te veel suur gebruik nie, anders proe die eiers daarna.
• Die 4-minuut geposjeerde eier is my gunsteling – dan is die eierwit ferm, maar die eiergeel nog loperig. Teen 4 ½ minute is die geel meer gestol en na 5 minute is die geel ferm.
• Maak dit vooraf: kook dit net sowat 3 minute en plaas in bakkie met koue water en bedek. Verhit dan die volgende dag deur dit in prutwarm-water te dompel, te dreineer en onmiddellik voor te sit.