Tuesday 30 June 2015

Marmerkoek




Marmerkoek

Dis onontbeerlik, veral as jy jou gaste wil beïndruk.

Genoeg vir 6
Bereiding: 10 min.
Gaarmaak: 50 min.

gesmelte botter, vir smeer
600 ml bruismeel, plus ekstra vir bestuif
375 ml (1½ k) strooisuiker
250 g botter, kamertemperatuur
4 eiers
7 ml (1½ t) vanielje-ekstrak
125 ml (½ k) melk
30 ml (2 e) kakaopoeier, gesif
7 ml (1½ t) fyn kaneel
30 ml (2 e) melk, ekstra
SJOKOLADEVERSIERSEL
30 ml (2 e) kakaopoeier
250 ml (1 k) versiersuiker
2,5 ml (½ t) fyn kaneel
15 ml (1 e) water

Voorverhit die oond tot 170 ˚C. Verf ’n 22 cm geriffelde ringkoekpan met ’n inhoudsmaat van 2 L goed met die gesmelte botter. Bestuif liggies met ekstra meel en skud enige oortollige meel uit.

1. Plaas die meel, suiker, botter, eiers, vanielje en melk in ’n groot mengbak en klits tot gemeng.
2. Gooi die helfte van die mengsel in ’n aparte bak. Meng die kakaopoeier, kaneel en ekstra melk tot ’n gladde pasta en voeg dit by ’n porsie van die beslag. Roer met ’n spatel of houtlepel tot goed gemeng.
3. Skep om die beurt ’n lepel vol van die vanielje- en sjokoladekoekbeslag in die gesmeerde pan en trek ’n bottermes daardeur om ’n marmereffek te skep.
4. Bak 50 min. of tot ’n steekpen skoon uitkom wanneer dit in die koek gesteek word. Laat die koek 5 min. in die pan staan voor jy dit op ’n draadrak uitkeer om heeltemal af te koel.
5. VERSIERSEL: Sif die kakaopoeier en versiersuiker in ’n middelslag-bak. Roer 15 ml (1 e) water met ’n houtlepel in en meng om ’n baie dik gietdikte te vorm of voeg nog water om dit dunner te maak.
6. Bedruip die koek daarmee en laat dit teen die kante afloop.