Tuesday 26 May 2015

Wilderys-plaatkoekies met heuningspek




Wilderys-plaatkoekies met heuningspek
Genoeg vir 4 mense
 Bereiding: 15 min.
 Gaarmaak: 30 min.
PLAATKOEKIES
 3 x 250 ml (3 k) koekmeel
’n knippie sout
 30 ml (2 e) bakpoeier
 60 ml (¼ k) suiker
 875 ml (3½ k) melk
 2 eiers
 30 ml (2 e) gesmelte botter
 250 ml (1 k) wildebruinrys, gaar
 30 ml (2 e) olie
SPEK
 250 g strepiespek
 30 ml (2 e) heuning
Voorverhit die oond tot 230 °C. Spuit ’n bakplaat met kossproei.
Plaatkoekies
Meng die koekmeel, sout, bakpoeier en suiker. Klits die melk, eiers en botter saam. Maak ’n holte in die middel van die droë bestanddele, giet die melkmengsel daarin en klits tot goed gemeng en sonder klonte.  Meng die rys deur die plaatkoekiemengsel en hou eenkant.
Spek
Pak die spek op ’n bakplaat en rooster 5 min. Giet die heuning oor en rooster nog 5-10 min. of tot bros.
Verhit ’n bietjie olie in ’n pan. Skep ’n lepel vol van die plaatkoekiemengsel in die pan. Draai om wanneer bruin aan die een kant en braai tot goudbruin en gaar aan die ander kant. Herhaal met die res van die beslag.
Sit die plaatkoekies voor saam met die spek, ricottakaas, gekapte amandels en ekstra heuning.
Die wilderys kan vervang word met pitmielies of selfs gaar bruinlensies.