Thursday 14 May 2015

Neutmuskaat-en-sjokolade-’salami’



Neutmuskaat-en-sjokolade-’salami’
Dié donkersjokolade-lekkerny is perfek vir ’n koue wintersaand wanneer ’n mens lekker ná ete voor die kaggelvuur ontspan met ’n glasie goeie rooiwyn in die hand. Dit is baie ryk, so jy het niks meer as net ’n klein snytjie nodig nie. Die neutmuskaat maak dit heerlik geurig en dié spesery se warm smaak is die ideale pasmaat vir jou glas rooiwyn of port.
Jy het nodig:
...
10 ml fyn neutmuskaat
125 ml amandelvlokkies
80 ml okkerneute
60 ml pistasieneute
8 Mariebeskuitjies, grofgebreek
50 g gesoute botter, in klein blokkies gesny (by kamertemperatuur)
350 g donkersjokolade van goeie gehalte
60 ml sterk koffie
5 ml fyngerasperde lemoenskil
125 ml versiersuiker
Só maak ’n mens:
1. Kap die okkerneute en pistasieneute grof. Meng met die amandels en sprinkel die neutmuskaat oor die neute. Plaas op ’n bakplaat en rooster teen 180 °C vir ongeveer 8 minute of totdat die neute effens verbruin het. Hou die neute dop dat dit nie verbrand nie, anders smaak dit bitter.
2. Plaas die sjokolade en die botter in ’n glasbak wat bo-oor ’n kastrol met warm water pas. Smelt die sjokolade en die botter saam (maak seker die water in die kastrol kook nie en raak ook nie aan die bak nie).
3. Sodra die sjokolade en botter gesmelt het, roer die warm koffie by en roer goed. Voeg die geroosterde neute by, asook die lemoenskil en beskuitjies. Roer goed totdat die neute en beskuitjies eweredig in die sjokolade versprei is.
4. Laat die sjokolade sowat tien minute lank afkoel terwyl jy die oppervlak voorberei waarop jy dit kan rol. Om dit te doen, skeur ’n strook bakpapier van 30 cm af (of kleefplastiek – vou dit dubbel) en lê dit plat op die werkoppervlak.
5. Skep die helfte van die sjokolademengsel in die middel van die strook. Vorm dit soos ’n wors in die lengte van die strook. Maak seker jy los minstens 5 cm aan die kante van die papier of plastiek sodat jy dit kan oprol soos ’n salami.
6. Lig die papier of kleefplastiek aan die kante van die sjokolade op en vou dit styf bo-oor die sjokolade. Druk die papier of plastiek aan die kante van die “salami” sodat jy ’n mooi vorm skep. Rol die “salami” styf toe in die papier. Dit sal soos ’n silinder lyk wat toegedraai is. Neem die punte van die papier en draai dit sodat dit soos lekkergoed in ’n papiertjie lyk. Dit sal die sjokolade help vorm in ’n perfekte, ronde “salami”. Hou die silinder aan albei kante vas en rol dit ’n paar keer op die werkoppervlak sodat dit ’n mooi vorm kry.
7. Plaas in die yskas om hard te word. Haal uit die yskas 30 minute voordat jy dit voorsit. Sif versiersuiker oor en rasper ’n bietjie vars neutmuskaat oor.
(Die Burger)