Thursday 14 May 2015

Martjie se vanielje-vlaskywe




Martjie se vanielje-vlaskywe

BLAARDEEG (VINNIGE SKILFERKORS)
Bestanddele
500 g botter
500 g koekmeel
2,5 ml kremetart
5 ml sout
250 ml yswater
3 e strooisuiker
VANIELJE-BAKKERSVLA
Bestanddele
500ml melk
Vanieljesaadjies van 1 peul
6 eiergele
1/2k suiker
1/3k mielieblom
50g botter

Instruksies


BLAARDEEG (VINNIGE SKILFERKORS)
Metode
1. Gebruik ’n elektriese menger of voedselverwerker en sny die botter in die meel in. Daar moet nog ertjiegrootte stukkies botter oorbly in die meel. Plaas dit in ’n groot mengbak. Sprinkel die kremetart oor die meel en botter.
2. Los die sout in die yswater op. Maak ’n put in die middel van die meel. Gooi bietjies vir bietjies water in die middel en sny die water met ’n mes of slaplemmes in die meel en botter in. Hou so aan tot al die water opgebruik is. Die deeg moet mooi ferm wees en in ’n bal kan vorm.
3. Verdeel die deeg in 2 skywe en vou dit toe met klewerige plastiek. Verkoel vir 20 minute.
4. Haal die deeg uit die yskas en rol in ’n groot reghoek uit. Vou een derde van die reghoek van bo tot in die middelste derde en vou die onderste derde op. Vou weer toe in die plastiek. Verkoel in die yskas vir 20 minute.
5. Plaas die die reghoek met die oop kant na jou toe. Rol weer uit soos in vorige stap.
6. Herhaal hierdie proses 4 keer.
7. Verhit die oond teen 200 grade Celsius.
8. Laat die deeg rus vir 20 minute voor dit gebruik word.
9. Rol die deeg 7mm dik uit op ’n meelbestrooide oppervlak.
10. Sny sirkels van 5cm in deursnee uit. Moenie die drukker wikkel nie, druk dit net af van bo en lig op.
11. Plaas die sirkels op ’n voorbereide bakplaat.
12. Sprinkel strooisuiker bo-oor.
13. Bak vir 20 minute tot mooi opgepof en goudbruin bo-op. Hou eenkant om af te koel.
VANIELJE-BAKKERSVLA
Metode
1. Verhit die melk tot onder kookpunt.
2. Klits die eiergele, suiker en mielieblom saam.
3. Gooi ’n klein bietjie van die warm melk by die mielieblommengsel, meng dit dan goed deur.
4. Giet dit by die melk en roer aanhoudend oor matige hitte totdat die vla mooi dik is.
5. Roer die botter stukkie vir stukkie in die vla, klits tot dit mooi glad en blink is.
6. Bedek met klewerige plastiek en hou eenkant.
SAMESTELLING VAN VANIELJE-VLASKYF
1. Sny die ronde poffertjies in 3 dele elk. Hou elkeen se dele bymekaar.
2. Plaas die bakkersvla in ’n spuitsak met ’n gewone punt en spuit ’n lekker hoeveelheid op elke deel, behalwe die bokant.
3. Plaas die dele van die vlaskyf opmekaar, onder, middel en bokant.
4. Pak dit op die opdienbord.