Thursday 14 May 2015

Gerda se tuiskoop-melktert



Gerda se tuiskoop-melktert

 Bestanddele
Tannie Rachie se Kors
625ml koekmeel
500g botter
5ml sout
5ml kremetart
1 eier
250ml yswater
Tannie Bettie se melktertvulsel
Nota: Sodra die vulsel reg is moet dit in die tertkors geskep word en onmiddellik gebak word.
Die oond moet voorverhit word teen180 °C wanneer jy die vulsel begin maak, om seker te maak die oond is warm genoeg, anders pof die deeg nie goed nie.
Bestanddele
875ml melk
60ml meel
60ml mielieblom
2ml sout
125ml suiker
60ml kondensmelk
3 Eiers, geskei
15ml botter
5ml vanielje-ekstrak

Instruksies


Gerda het twee resepte gekombineer vir haar tradisionele melktert: die skilferkors is van tannie Rachie Woithe, ’n formidabele bakker en stigterslid van Ermelo se legendariese tuisnywerheid, Tuiskoop. Die melkpap-resep is van die geliefde tannie Bettie Jacobs, wat jare op die direksie van Tuiskoop was.
(Lewer 2 terte)
Tannie Rachie se Kors
Metode:
1) Meng 250 ml meel met kremetart en hou eenkant.
2) Sif 375 ml meel en sout.
3) Vryf 250 g botter en meel in, voeg die eier en water by.
4) Vorm ’n sagte deeg, rol uit.
5) Rasper 125 g botter oor die deeg, bestrooi oppervlak en deeg met die meel-kremetartmengsel.
6) Vou in derdes toe en rol deeglik uit.
7) Rasper 125 g botter oor die deeg, bestrooi oppervlak en deeg met die meel-kremetartmengsel.
8) Vou in derdes toe en rol deeglik uit.
9) Sny deeg en voer die twee panne uit.
10) Verf eierwit oor die bodem en prik effens met ’n vurk. Plaas in yskas tot melktertvulsel gereed is.
Tannie Bettie se melktertvulsel
Metode:
1) Verhit 750 ml melk tot kookpunt.
2) Meng in menger 125 ml melk, meel, mielieblom, sout, suiker, kondensmelk en eiergele.
3) Gooi die beslag deur ’n sif om klontjies te voorkom.
4) Voeg beslag by kokende melk, roer aanhoudend totdat dit begin kook.
5) Kook vir 3 minute tot verdik.
6) Verwyder van hitte en voeg vanielje by.
7) Klits eierwitte en 5 ml bakpoeier tot sagtepunt-stadium en roer by melkmengsel.
8) Skep op verkoelde korse en sprinkel kaneel oor.
9) Bak vir 20-25 minute in die voorverhitte oond teen 180 °C.