Thursday 14 May 2015

Mareli se fluweelkolwyntjies met tameletjie-appelkoos



Mareli se fluweelkolwyntjies met tameletjie-appelkoos

Bestanddele

Basis vir flan-kolwyntjies
60 ml botter
125 ml melk
2 eiers, geklits
190 ml strooisuiker
375 ml koekmeelblom
10 ml bakpoeier
1 ml sout
Ekstra meelblom en strooisuiker om in pannetjies te strooi
Fluweelvulsel
180 ml koekmeel
2 ml sout
125 ml suiker
1 liter melk
4 eiers, geskei
60 ml botter
5 ml vanieljegeursel
7-minuut-versiersel
4 eierwitte
1 koppie suiker
Knippie kremetart
Appelkooskonfyt
1 blik ingemaakte appelkose
1 koppie suiker
Tameletjie-appelkoos
12 Turkse gedroogte appelkosies
125 ml strooisuiker
30 ml water

Instruksies


Basis vir flan-kolwyntjies
  1. Voorverhit die oond tot 180 ºC.
  2. Gebruik 2 kolwyntjiepannetjies wat inmekaar pas. (Die mini-flans gaan gevorm word deur die kleiner pan bo-op die pan met die gaar flans te druk en sodoende die tipiese flanfatsoen te vorm.) Smeer die panne baie goed. Meng ’n bietjie meelblom en strooisuiker en strooi dit oor die bodem.
  3. Verhit die botter en die melk. Klits die eiers en strooisuiker saam tot dik en romerig. Sif die meelblom, bakpoeier en sout saam en vou dit met ’n metaallepel by die eiermengsel in. Roer die warm melk en botter by.
  4. Skep die mengsel in die groter kolwyntjiepannetjies en bak tot goudbruin.
  5. Haal uit die oond uit en druk die kleiner kolwyntjiepan bo-op die gaar koekies sodra dit uit die oond uitkom om die flanfatsoene te vorm. Keer dit versigtig uit en laat heeltemal afkoel voordat die vulsel ingeskep word.
Fluweelvulsel
  1. Verhit die oond tot 180ºC.
  2. Sif die droë bestanddele saam en meng met ’n bietjie melk.
  3. Verhit die res van die melk tot net onder kookpunt. Roer ’n bietjie melk by die meelpasta en roer dan by die warm melk by. Verhit en roer aanhoudend tot dit begin kook en verdik.
  4. Klits die eiergele en voeg by. Roer die botter en vanieljegeursel ook by.
  5. Giet die mengsel bo-op die gaar klein flans en bak vir 10-15 minute.
7-minuut-versiersel
  1. Smelt die suiker saam met die eierwitte in ’n dubbelkoker. Roer tot al die suiker opgelos is.
  2. Voeg knippie kremetart by en klits met ’n elektriese klitser tot blink en dit stywe punte vorm.
  3. Plaas die mengsel in ’n versiersak met ’n oop sterpuntspuit.
Appelkooskonfyt
  1. Gooi die vloeistof van die appelkose af, plaas in ’n medium kastrol en druk die appelkose effens plat.
  2. Voeg suiker by en roer oor medium hitte totdat die suiker opgelos is.
  3. Laat prut tot die konfyt taai is.
Tameletjie-appelkoos
  1. Plaas suiker in die middel van die pan, gooi die water rondom, skud die pan tot die suiker opgelos is. Laat die suiker karamelliseer sonder om te roer.
  2. Trek die appelkosies versigtig deur die stroop en plaas op afkoelrak om af te drup.
Bymekaarsit
  1. Spuit ’n rand versiersel om die afgekoelde kolwyntjie se bokant. Vul die holte met ’n teelepel konfyt en spuit nog versiersel bo-oor.
  2. Brand liggies met ’n gasvlam en versier met tameletjie-appelkoos.