Wednesday 6 May 2015

Koejawel-en-vlatertjies




Koejawel-en-vlatertjies
Genoeg vir 4
Jy het nodig:
Vir die gestoofde koejawels:
700 g vars koejawels
60 ml witsuiker
die skil van ’n halwe lemoen
120 ml lemoensap
2 rooibosteesakkies
10 ml asyn
Vir die vulsel:
10 eiergele
100 g strooisuiker
50 g mielieblom
250 ml room
250 ml melk
’n knypie sout
50 g botter (vir die vla)
100 g gesmelte botter (vir die kors)
200 g Tennisbeskuitjies
Vir die krummel-bolaag:
80 ml fyn klapper
80 g amandelvlokkies
80 ml hawermout
15 ml heuning
15 ml botter
Vir die witsjokoladesous:
100 g witsjokolade
60 ml room
’n knypie sout
Só maak ’n mens:
1. Klits die eiergele en die strooisuiker saam tot die mengsel in volume verdubbel het en liggeel is. Voeg die mielieblom by en klits deeglik.
2. Verhit die room en melk saam tot net onder kookpunt. Voeg dit stadig by die eiermengsel en klits aanhoudend om te keer dat jy die eiers gaarmaak. Voeg die knypie sout by en klits weer.
3. Plaas die vlamengsel terug in die kastrol en verhit oor matige hitte, roer aanhoudend tot die vla baie dik is. Jy kan ’n draadklitser gebruik om te help keer dat klonte vorm.
4. Verwyder van die stoof en roer die 50 g botter by. Bedek die vla met kleefplastiek (wat raak aan die bokant van die vla) en laat heeltemal afkoel.
5. Om die gestoofde koejawels te maak, skil en kap in 3 cm blokkies. Plaas in ’n klein kastrol saam met die lemoenskil en -sap, teesakkies en witsuiker. Kook oor lae hitte vir 30 minute tot dik en klewerig. Verwyder die lemoenskil en teesakkies en laat heeltemal afkoel.
6. Om die kors te maak, maak die beskuitjies fyn in jou voedselverwerker. Drup die 100 g gesmelte botter by terwyl die masjien aan is.
7. Bespuit die kante en basis van jou tertpannetjies deeglik en druk dan die kors in die pannetjies – druk dit stewig vas met die agterkant van ’n lepel.
8. Om die bolaag te maak, meng die klapper, hawermout en neute in ’n klein bakkie en roer ook die heuning en botter by. Rooster die mengsel in die oond teen 180 °C vir 8-10 minute tot bruin om die kante. Laat afkoel en breek dit dan met jou vingers op.
9. Verdeel die vla tussen die tertjies en skep die gestoofde koejawels oor die helfte van die tert. Sprinkel die bolaag oor die vrugte en verkoel minstens ’n uur.
10. Smelt die sjokolade saam met die room en sout in ’n dubbelkoker. Sit dit saam met die tertjies voor.