Wednesday 6 May 2015

Aartappelpastei met gorgonzola



Aartappelpastei met gorgonzola
Jy het nodig:
125 ml dik room
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 x 400 g skilferkorsdeeg, ontvries en gehalveer
500 g aartappels, geskil en in dik skywe gesny
Sout en varsgemaalde swartpeper, na smaak
45 ml botter
100 g gorgonzola, gekrummel (bloukaas)
10 ml vars tiemieblaartjies
1 groot eier, liggies geklits

Só maak ’n mens:
1. Voorverhit die oond tot 200 °C.
2. Plaas die room in ’n pan saam met die knoffel en verhit tot kookpunt.  Verwyder van die hitte en laat ’n rukkie staan.
3. Smeer ’n bakplaat met botter. Rol een helfte van die deeg dun uit en plaas dit op die voorbereide bakplaat.
Trek ’n sirkel van sowat 20 cm in deursnee op die deeg.
Pak die helfte van die aartappels binne die sirkel met die kante wat effens oorvleuel.
Geur met sout en peper.
4. Sprinkel 50 g van die kaas en tiemie oor en stip met klontjies botter.
Herhaal die lae met die res van die aartappelskywe. Bestryk die kante van die deeg met die geklitste eier.
5. Rol die res van die deeg uit en maak die vulsel daarmee toe.
Vorm ’n mooi netjiese pastei en druk die deeg stewig vas.
Sny oortollige deeg met ’n skerp mes af. Bestryk die deeg met eier en gebruik ’n vurk om die kante van die pastei mooi te maak.
6. Maak ’n gaatjie in die middel van die pastei en gebruik ’n klein tregter om die room-en-knoffel stadig in die pastei in te gooi.
7. Bak sowat 20 minute tot goudbruin. Verlaag die hitte tot 180 °C en bak nog 20 minute totdat die pastei mooi opgepof en deurgaar is.
Bedek die pastei met foelie as dit te vinnig bruin word.
Sny in wiggies en sit voor saam met ’n mengelslaai.