Wednesday 6 May 2015

Kruiepotjies




Kruiepotjies
Gebruik metaal-emmertjies vir potte. Ons het die emmers gedécoupage met foto’s van ons kruiemerkers en ander tuingereedskap wat in swart en wit uitgedruk is, maar jy kan ook geskenkpapier of servette gebruik.
Jy benodig
• metaal-emmertjies
• prente van jou keuse
• grys aanspuit-onderlaag
• wit spuitverf
• verf vir die handvatsel
• modge podge
• waterdigtingsverf vir dakteëls
• verfkwaste, verfbak en drupvel
• sponskwas
• wondergom
So maak jy
 1 Maak die emmer skoon en droog. As daar roeskolle op is, skuur dit eers liggies af en behandel dit dan met ’n teenroesmiddel of -verf.
2 Spuit die emmer egalig met grys aanspuit-onderlaag – eers die binnekant en dan die buitekant – en laat droog word.
3 Spuit nou die emmer se buitekant met ’n ligte lagie wit spuitverf. Laat droog word en spuit nog ’n laag of twee, indien verkies. Ons het net een laag gespuit vir ’n minder soliede wit kleur.
4 Seël nou die emmer se binnekant met ’n laag waterdigtingsverf vir dakteëls om te keer dat dit roes. Laat heeltemal droog word.
5 Nou kan jy die emmer découpage. Verf die buitekant met twee lae modge podge om die oppervlak voor te berei en laat droog word ná elke laag.
6 Knip solank jou prente al om hul buitelyne uit. Plak dit met wonder- gom op die emmer vas en rangskik dit soos dit vir jou mooi lyk.
7 Wanneer jy gereed is, haal die eerste prent af en verf modge podge op dié deel van die emmer asook die agterkant van die prent. Plak die prent op die emmer vas, vee dit met jou sponskwas glad en verf nog ’n laag modge podge bo-oor. Découpage al die prente so en laat droog word.
8 Seël die hele emmer met nog ’n paar oorkruis lae modge podge en laat droog word ná elke laag.
9 Verf die handvatsel in die kleur van jou keuse.
Kruiemerkers

Jy benodig
• ou silwer lepels, messies en/of vurke
• metaal-poleermiddel en ’n sagte lap
• hars (resin)
• keel- of roomysstokkies
• asetaat
• alkant-plakband
So maak jy
 1 Was die eetgerei in warm seepwater, droog af en poleer blink.
2 Tik die name van jou kruie in die lettertipe van jou keuse in op jou rekenaar – maak seker almal pas in op jou eetgerei – en druk dit uit op ’n vel asetaat.
3 Knip die name uit om op jou eetgerei te pas en plak dit met alkant-plakband in posisie vas.
4 Maak genoeg hars aan volgens die vervaardiger se aanwysings (ons het Pratley Kraftex se Pratliglo gebruik) en drup dit oor die eetgerei. Gebruik ’n keel- of roomysstokkie om die hars tot op die rande te versprei – die hars vorm ’n meniskus en behoort nie oor die rand te loop as jy net genoeg opsit nie. Laat oortollige hars veral by die lepel afdrup terwyl die hars nog vloeibaar is.
5 Laat staan die eetgerei vir sowat 24 uur op ’n stofvrye plek tot die hars heeltemal hard is. Druk die merkers in jou potjies.
(Idees)