Monday 11 May 2015

Hoenderpastei met ’n kinkel




Hoenderpastei met ’n kinkel


Genoeg vir 6
Bereiding: 20 min.
Bak: 30 min.
50 g botter
3 sprietuie, gekap
2 ml (½ t) neutmuskaat
1 houertjie hoenderaftreksel of sakkie gekonsentreerde hoenderaftreksel
100 g spinasie, fyngekap
100 g basmatirys, gekook
sout en peper
1 rol (400 g) skilferkorsdeeg
4 hoenderborsies, ongekook
1 eier, geklits met ’n bietjie melk
  1. Voorverhit die oond tot 200 °C.
  2. Verhit die botter in ’n groot pan en braai die sprietuie vyf minute. Voeg die neutmuskaat, aftreksel en spinasie by en kook nog vyf minute of tot die spinasie verwelk. Meng in die rys, en geur met sout en peper.
  3. Rol die helfte van die deeg uit in ’n langwerpige reghoek.
  4. Skep die helfte van die rysmengsel oor en plaas die hoender bo-op; pak dit sodat daar geen gapings tussenin is nie. Skep die orige rysmengsel bo-oor.
  5. Rol die oorblywende deeg uit in ’n reghoek wat oor die vulsel pas. Borsel die randjies van die basis met die geklitste eier en bedek die vulsel met die tweede stuk deeg. Seël die kante. Sny van die deeg af, indien nodig, om dit ’n netjiese vorm te gee. Borsel die hele pastei met geklitste eiers en versier met pasteivorms, as jy wil.
  6. Bak 30 minute of tot die pastei bros en goudbruin is. Laat 10 minute teen kamertemperatuur staan, sny en sit voor