Wednesday 8 April 2015

Petit Fours - Koekedoor (verskeie)



Caroli se petit fours

Bestanddele

Lewer 20 petit fours

Koek:
75 ml melk
30 ml botter
120 g koekmeelblom (250 ml)

5 ml bakpoeier
Knippie sout
2 eiers
140 g strooisuiker
5 ml vanieljegeursel
Glansversiersel (genoeg vir 8-10 koekies – verdubbel resep vir 20):
250 g versiersuiker
± 40 ml warm water
Verskillende kleursel
1 eierwit
1 Koppie versiersuiker
± 100 g marsepein
100 ml appelkooskonfyt

Instruksies

  1. Voorverhit die oond tot 200°C. Voer ’n rolkoekpan met bakpapier uit en spuit met kleefwerende kosproei.
  2. Verhit die melk en botter tot kookpunt en roer totdat die botter smelt. Verwyder van die hitte.
  3. Klits die eiers tot dit lig en romerig is. Voeg die suiker geleidelik by. Klits tot die suiker opgelos is. Voeg die vanielje-geursel by.
  4. Sif die meelblom, bakpoeier en sout saam. Roer die droë bestanddele by die eiermengsel.
  5. Voeg die warm melkmengsel by en klits vir een minuut.
  6. Gooi die beslag in die rolkoekpan en versprei eweredig. Bak vir ongeveer 15 minute tot gaar. (Die koek het nie veel gerys nie, maar dit laat jou toe om ’n klein petit four met ’n dubbellaag te maak). Keer uit op ’n afkoelrakkie en plaas in die vrieskas om af te koel.
  7. Rol die marsepein dun uit (1-2 mm).
  8. Wanneer die koek koud is, smeer ’n dun lagie appelkooskonfyt op die koek en plaas die ander helfte bo-op. Plaas dit terug in die vrieskas. Sny die koek in 3 cm x 3 cm blokkies wanneer die koek yskoud is.
  9. Maak die glansversiersel – roer die versiersuiker met die water tot al die klonte uit is. Kleur dit met pastelkleure.
  10. Maak die harde versiersel (royal icing) deur die versiersuiker saam met die eierwit te klits tot dit begin vorm behou wanneer jy dit met ’n lepel oplig en laat terugdrup. Voeg nog versiersuiker by indien dit nog te loperig is.
  11. Plaas een blokkie koek op ’n slag op ’n slaplemmes en gooi die glansversiersel oor tot die hele blokkie bedek is. Plaas dit versigtig op ’n draadrak.
  12. Gebruik ’n spuitbuis met die kleinste spuitpunt. Vul die sak met die harde versiersel (royal icing). Maak patroontjies op die petit fours om te pas by ’n fyn teepartytjie-tema, soos blommetjies, skoenlappers of blaartjies. Dit kan ook met versuikerde eetbare blomme versier word.
Caroli se wenke:
  • Ek het ’n veerkoek-resep gebruik wat nie hoog gerys nie. Plak twee lae op mekaar met ’n dun lagie konfyt.
  • Rol die marsepein baie dun uit op versiersuiker of Maizena.
  • Gesmelte fondant kan ook gebruik word om dit mee te bedek.
  • Die ideaal is dat die koek oornag in die vrieskas bly voor jy dit sny.
  • Maak nog ’n ronde glansversiersel aan – hierdie hoeveelheid is genoeg vir 8 petit fours.


Gerrit se petit fours

Bestanddele
(Lewer 24)
250 g botter
250 g marsipaan – gerasper
150 g strooisuiker
1.25 ml amandelgeursel
1.25 ml vanielje geursel
6 eiers – kamertemperatuur
155 g meel
10 ml bakpoeier
125 ml appelkooskonfyt
250 g marsipaan
Glansversiersel
500 ml suiker
1 ml kremetart
250 ml warm water
375 ml gesifte versiersuiker

Instruksies

Resep: Koeke ter viering van die liefde en lewe deur Callie Maritz en Mari-Louis Guy
  1. Voorverhit die oond tot 180° C.
  2. Smeer en voer ’n vierkantige pan van 20 cm met bakpapier uit.
  3. Plaas die botter en marsepein in ’n mengbak en klop tot romerig. Klop die suiker by, en daarna die amandel- en vanieljegeursel. Voeg die eiers een vir een by; onthou om die kante van die bak gereeld skoon te skraap.
  4. Sif die meel en bakpoeier by en klits vir 10 minute. Giet die beslag in die voorbereide pan en bak vir 30 minute of tot die koek terugwip wanneer jy liggies op die middel druk. Laat heeltemal afkoel in die pan. Sny in vierkante en bedek die bokante met ’n laag marsepein.
  5. Sny in netjiese vierkante van 3 cm x 3 cm en plaas op ’n draadrakkie met ’n oondpan onder.
  6. Gebruik die kroontjie van die roosmaryn en die fyn blaartjies van die tiemie. Bestryk met geklitste eierwit en bestrooi met strooisuiker. Laat op bakplaat om droog te word.
  7. Glansversiersel: Kook die suiker, kremetart en water in ’n kastrol tot in ’n stroopvorm wat ’n dun draad trek as dit van ’n lepel af drup.
  8. Koel dit effens af sodat dit nog sterk warm is, en voeg genoeg versiersuiker by om ’n slap versiersel te maak wat oor die koek gegooi kan word. Voeg die versiersuiker by die stroop, en nie die stroop by die versiersuiker nie.
  9. Giet die versiersel oor die voorbereide koek deur in die middel te begin en in ’n sirkel uitwaarts te beweeg. Rond die kante met ’n spatel af.




Murray se petit fours

Bestanddele
Lewer 24 petit fours
250 g botter
250 g marsepein, gerasper + ekstra 250 g vir afronding
150 g strooisuiker
1.25 ml amandelgeursel
1.25 ml vanieljegeursel
6 eiers – kamertemperatuur
155 g meel
10 ml bakpoeier
125 ml appelkooskonfyt
Glansversiersel
500 ml suiker
1 ml kremetart
250 ml warm water
375 ml gesifte versiersuiker
Vars roosmaryn
Vars tiemie
Eierwit
Strooisuiker

Instruksies

  1. Voorverhit die oond tot 180° C.
  2. Smeer en voer ’n vierkantige pan van 20 cm in deursnee met bakpapier uit.
  3. Plaas die botter en gerasperde marsepein in ’n mengbak en klop tot romerig. Klop die suiker by, en daarna die amandel- en vanieljegeursel. Voeg die eiers een vir een by; onthou om die kante van die bak gereeld skoon te skraap.
  4. Sif die meel en bakpoeier by en klits vir 10 minute. Giet die beslag in die voorbereide pan en bak vir 30 minute of tot die koek terug bons wanneer jy liggies op die middel druk. Laat heeltemal afkoel in die pan. Sny in vierkante en bedek die bokante met ’n laag marsepein.
  5. Sny in netjiese vierkante van 3 cm x 3 cm en plaas op ’n draadrakkie met ’n oondpan onder.
  6. Gebruik die kroontjie van die roosmaryn en die fyn blaartjies van die tiemie. Bestryk met geklitste eierwit en bestrooi met strooisuiker. Laat op bakplaat om droog te word.
  7. Glansversiersel: Kook die suiker, kremetart en water in ’n kastrol tot in ’n stroopvorm wat ’n dun draad trek wanneer dit van ’n lepel af drup.
  8. Koel dit effens af sodat dit nog sterk warm is, en voeg genoeg versiersuiker by om ’n slap versiersel te maak wat oor die koek gegooi kan word. Voeg die versiersuiker by die stroop, en nie die stroop by die versiersuiker nie.
  9. Giet die versiersel oor die voorbereide koek deur in die middel te begin en in ’n sirkel uitwaarts te beweeg. Rond die kante met ’n spatel af en versier met versuikerde roosmaryn en tiemie.




Valerie se petit fours

Bestanddele
Lewer 24.
250 g botter
250 g marsepein – gerasper + 250 g ekstra marsepein
150 g strooisuiker
1.25 ml amandelgeursel
1.25 ml vanieljegeursel
6 eiers – kamertemperatuur
155 g meel
10 ml bakpoeier
125 ml appelkooskonfyt
Vloeibare fondant
6 k (840 g) versiersuiker gesif
½ k (125 ml) water
1 e (15 ml) vloeibare glukose
 

Instruksies

  1. Voorverhit die oond tot 180° C.
  2. Smeer en voer ’n vierkantige pan van 20 cm in deursnee met bakpapier uit.
  3. Plaas die botter en marsepein in ’n mengbak en klop tot romerig. Klop die suiker by, en daarna die amandel- en vanieljegeursel. Voeg die eiers een vir een by; onthou om die kante van die bak gereeld skoon te skraap.
  4. Sif die meel en bakpoeier by en klits vir 10 minute. Giet die beslag in die voorbereide pan en bak vir 30 minute of tot die koek terugwip wanneer jy liggies op die middel druk. Laat heeltemal afkoel in die pan. Sny in vierkante en bedek die bokante met ’n laag marsepein.
  5. Sny in netjiese vierkante van 3 cm x 3 cm en plaas op ‘n draadrakkie met ‘n oondpan onder.
  6. Plaas versiersuiker, water en glukose in ’n kastrol oor lae hitte. Roer tot effens verdik, maar vloeibaar en kleur soos verlang.
  7. Giet die versiersel oor die voorbereide koek deur in die middel te begin en in ’n sirkel uitwaarts te beweeg. Rond die kante met ’n spatel af.



Mareli se petit fours

Bestanddele
450 g botter of margarien
480 g suiker
10 geklitste eiers
15 ml vanielje
680 g koekmeelblom
Vulsel:
90 g eierwit
150 g suiker
120 g versiersuiker
250 g botter teen kamertemperatuur
1 teelepel vanieljegeursel
1 houer bloubessie konfyt (gesyg deur ’n sif)
2 koppies marsepein
1 kg vloeibare fondant

Instruksies

Die resep lewer 24 petit fours. Die resep is genoeg om vier rolkoekpanne te vul – halveer as jy minder wil maak of nie hoog gestapelde petit fours wil maak nie.

  1. Verhit die oond tot 180°C. Berei 3 rolkoekpanne voor.
  2. Klits die botter en suiker baie goed en voeg die geklitste eier bietjies-bietjies by gevolg deur die vanieljegeursel. Klits verder vir ongeveer 5 minute tot liggeel.
  3. Sif die meel en voeg dit bietjies-bietjies by.
  4. Skep in die 3 panne en bak vir 15-20 minute of tot gaar.
Vulsel:
  1. Maak die Switserse botterversiersel: Roer die suiker en eierwitte oor ’n dubbelkoker totdat die suikerkristalle opgelos het. Toets dit deur die mengsel tussen jou vingers te vryf – sodra jy geen suikerkorrels voel nie, is dit reg.
  2. Gooi die warm eiermengsel in die elektriese menger se bak en klits met die draadklitser totdat dit stywepunt-stadium bereik en glansend is.
  3. Sif die versiersuiker en voeg dit by die eiermengsel. Klits eers op stadig (anders maak die versiersuiker stof) en dan op vining tot so styf as moontlik.
  4. Verdeel die botter in 4 dele. Maak seker dat dit kamertemperatuur is.
  5. Voeg die botter in 4 sarsies by die eiermengsel met die menger op volspoed. Moenie skrik as die eier slap raak na die tweede byvoeging nie. Hou net aan klits en voeg die laaste 2 sarsies botter by. Uiteindelik sal die mengsel dik en glad raak.
Voltooi:
  1. Smeer ’n dun lagie swartbessiekonfyt op al 3 lae koek.
  2. Smeer ’n dun lagie Switserse botterversiersel op 2 van die lae.
  3. Plaas al 3 lae bo-op mekaar met die konfytlagie bo-op.
  4. Maak toe met bakpapier. Sit ’n omgekeerde rolkoekpan bo-op gevolg deur ’n swaar voorwerp.
  5. Rol die marsepein papierdun uit en plaas bo-op die koek.
  6. Smelt die vloeibare fondant in ’n dubbelkoker en kleur soos verlang.
  7. Sny die koek in 3 cm x 3 cm blokkies en plaas op ’n draadrakkie met ’n bakplaat onder.
  8. Gooi die vloeibare fondant met ‘n lepel oor en versier soos verlang.
Wenke:
Halveer die resep en bak net 2 lae rolkoek (die beslag is genoeg vir 4 rolkoekpanne).
Sit die petit fours op ’n vurk en skep die vloeibare fondant met ’n lepel oor om ’n mooi voorkoms te verkry.




Gerda se petit fours

Bestanddele
250 g botter
250 g marsepein
150 g strooisuiker
1.25 ml amandel-ekstrak
1.25 ml vanielje-ekstrak
6 eiers, teen kamertemperatuur
155 g koekmeelblom
2 t bakpoeier

Instruksies

  1. Voorverhit die oond tot 180˚C.
  2. Smeer en voer ’n vierkantige pan (van sowat 20 cm in deursnee) uit.
  3. In die bak van ’n elektriese menger room die botter en marsepein saam.
  4. Klits die strooisuiker en albei ekstrakte by.
  5. Voeg die eiers een op ’n slag by, skraap die kante van die bak gereeld af.
  6. Sif die meel en bakpoeier by en klits vir 10 minute.
  7. Gooi die deeg in die pan en bak vir 30 minute (of totdat die koek terugbons wanneer dit sag in die middel gedruk word).
  8. Koel af in pan.
  9. Bedek die bokant met ’n dun lagie appelkooskonfyt en dun uitgerolde marsepein.(Rol die marsepein op die rolstok en rol weer af bo-op koek.)
  10. Sny in vierkante van 3 x 3 cm.
  11. Verhit vloeibare fondant en bietjie water in ’n dubbelkoker.
  12. Kleur fondant na eie keuse.
  13. Plaas koekies een vir een op spatula en gooi fondant met groot lepel bo-oor koekie.
  14. Laat stol op ’n draadrak wat op ’n bakplaat rus.
  15. Versier bo-kant van koekies soos verlang met plastiese versiersel, harde versiersel of na keuse.