Wednesday 8 April 2015

Rolkoek - Koekedoor (verskeie)



Cecilia se konfytrol met haselneute

Bestanddele
4 eiers, geskei
165 ml strooisuiker
50 ml koue water
200 ml bruismeel
2 ml sout
125 ml geroosterde haselneute, fyngekap + 3 heel neute vir versiering
Konfyt van eie keuse

Instruksies

  1. Voorverhit oond tot 180˚C.
  2. Klits eiergele en voeg suiker geleidelik by, tot dik. Klits die koue water by.
  3. Klits die eierwitte styf, maar nie droog nie, en vou dit met ’n metaallepel saam met die droë bestanddele en fyn neute by die eiergeel-mengsel in.
  4. Voer ’n rolkoekpan met bakpapier uit. Smeer dit goed en giet die mengsel in. Bak vir 20 minute.
  5. Keer die koek uit op ’n doek wat met strooisuiker bestrooi is. Trek die papier af en sny die kante met ’n skerp mes netjies. Rol die koek met behulp van die doek op. Bedek met ’n klam doek en laat effens afkoel.
  6. Verhit konfyt oor ’n kastrol met kookwater. Rol die koek oop en smeer met konfyt. Rol weer op en laat afkoel.
  7. Sif versiersuiker oor en rond af met heel neuter.



Valerie se rolkoek met suurlemoensmeer

Bestanddele
(Lewer 1 middelslag rolkoek)
 
4 eiers, geskei
50 ml suurlemoensap
210 g / 250 ml strooisuiker
140 g / 250 ml ongesifte koekmeelblom
5 ml bakpoeier
Knippie sout
150 ml suurlemoensmeer (lemon curd)
Versiering: Versiersuiker vir sif en gerasperde suurlemoenskil

Instruksies

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C.
  2. Smeer ’n rolkoekpan van 30 x 45 cm, voer dit met waspapier uit en smeer die papier ook. Bestuif met ’n bietjie koekmeelblom en skud die oortollige koemeelblom van die papier af.
  3. Klits die eiergele, suurlemoensap en strooisuiker baie goed saam tot liggeel en sponsagtig dik.
  4. Sif die koekmeelblom en bakpoeier saam en vou dit bietjiesgewys met ’n metaallepel in die eiergeelmengsel in.
  5. Klits die eierwitte en sout saam net tot stywe punte vorm. Roer ’n bietjie van die eierwit by die eiergeelmengsel en vou die res van die eierwit liggies in.
  6. Skep die deeg in die koekpan en smeer gelyk. Bak vir 10 minute lank op die oondrak in die middel van die oond. Keer uit op ’n klam doek wat met suiker bestrooi is.
  7. Trek die papier versigtig af. Smeer die suurlemoensmeer oor die koek. Rol die koek versigtig met behulp van die doek op.
  8. Sny die kante netjies en laat dit minstens 30 minute lank op ’n draadrak afkoel.
  9. Sif versiersuiker oor en rasper suurlemoenskul oor.



Gerrit se rolkoek met groenvye

Bestanddele
125 ml koekmeelblom
1.25 ml sout
3 eiers, geskei
125 ml strooisuiker + 12.5 ml ekstra
12.5 ml suurlemoensap
2.5 ml vanieljegeursel
Vulsel:
6 ingelegde groen vye
15 ml van die inlêstroop
Versiersuiker om bo-oor te sif (opsioneel)

Instruksies

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C.
  2. Spuit ’n rolkoekpan van 35 cm x 25 cm met kleefwerende kossproei en voer uit met bakpapier.
  3. Sif die koekmeelblom en sout saam.
  4. Klits die geel van die eiers en voeg die suurlemoensap en die 125ml strooisuiker by. Klits tot liggeel en dik.
  5. Vou die droë bestanddele liggies daarby.
  6. Klits die wit van die eiers tot skuimerig. Voeg die 12.5 ml strooisuiker by en klits tot styf.
  7. Bak dit vir 10 minute of tot gaar.
  8. Verpulp intussen die gepreserveerde vye saam met die stroop in ’n voedselverwerker.
  9. Keer die koek uit op ’n klam doek sodra dit uit die oond uit kom. Trek die bakpapier af en keer dit om op die koek. Rol die koek op met behulp van die klam doek en laat afkoel.
  10. Rol die koek af sodra dit genoeg afgekoel het en smeer met die vyevulsel en room. Rol die koek weer op en sny die koekrante netjies.
  11. Opsioneel: Vir versiering – plaas vurkies of lepels op die rol, strooi versiersuiker oor en haal vurkies af om die patroon te onthul.