Friday 20 March 2015

Tish se stollen met groenvye





Tish se stollen met groenvye

 Bestanddele

(Lewer 2 middelslag stollens.)
Vrugte mengsel:
2 koppies / 400g gemengde versuikerde vrugte
1 koppie / 200g groenvye konfyt of versuikerde vye

¼ koppie / 65ml lemoensap
Suurdeeg mengsel:
1 pakkie kitsgis (10 g)
¼ koppie / 65 ml lou water
1 teelepel / 5ml heuning
1 ¾ koppie / 245 g koekmeel
Deeg mengsel:
1/3 koppie / 80ml heuning
1 eier – geklits
125 g sagte botter
2 teelepels / 10 ml gerasperde suurlemoenskil
1 teelepel / 5 ml sout
½ teelepel / 2.5 ml gemengde speserye
1 koppie / 120g gekapte geroosterde amandels
3 tot 4 koppies / 420 tot 560 g koekmeel
Gesmelte botter
Vulsel:
30 g sagte botter
2 teelepels / 10 ml fyn kaneel
1/3 koppie / 65 g suiker

Koninklike versiersel (‘royal icing’)
1 eierwit
1 ½ e koppie / 210 g versiersuiker, gesif
’n Paar druppels suurlemoensap

Amandel-pasta
1 eier
1 eetlepel brandewyn
4 koppies / 560 g versiersuiker gesif
250 g amandelmeel

Instruksies


Wenk: Vir ’n neuterige smaak kan 200 g marsepein in 2 bolletjies gerol word en in elke broodjie toegerol word, saam met die vrugte en die vulsel.
Metode:
  1. Voorverhit die oond tot 180° C.
  2. Plaas die fyngesnyde versuikerde vrugte of die groenvye konfyt in ’n mengbak. Gooi die likeur en lemoensap bo-oor om te week terwyl die deeg aangemaak word.
  3. Meng die gis en die meel. Meng die water, melk & heuning en roer by die meel mengsel. Plaas op ‘n warm plek tot die oppervlak blasies maak. Voeg die ½ de van die vrugtemengsel by.
  4. Meng die bestanddele van die deegmengsel behalwe die meel. Roer dit by die vrugte-gis mengsel. Roer die meel koppie vir koppie by tot te styf om te roer. Knie terwyl nog meel bygevoeg word tot die deeg glad en elasties is. Plaas op ’n warm plek & laat rys tot dubbel die grootte (± 1 uur).
  5. Meng die bestanddele van die vulsel saam. Plaas die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak. Verdeel die deeg en vorm 2 ovaalvormige broodjies. Smeer die vulsel oor die helfde van elke ovaalvormige broodjie. Plaas die res van die vrugte mengsel bo-op die vulsel. Vou dubbel en druk baie goed vas. Bedek die broodjies met ’n vadoek en laat dit rys vir 30 minute.
  6. Plaas die broodjies op ’n gesmeerde bakplaat en bak vir 30 tot 45 minute, of tot die broodjies hol klink as dit geklop word.
  7. Bedruip met koninklike versiersel (‘royal icing’) en versier met versuikerde vrugte.

Koninklike versiersel (‘royal icing’)
  1. In die bak van ’n elektriese klitser met die draadklitser-hegstuk, klop die eierwit liggies. Voeg die versiersuiker stadig by. Voeg die suurlemoensap by. Klop op hoog vir 10 tot 15 minute tot die versiersel lig en glad is en die regte graad van vloeibaarheid. Vir ’n meer loperige versiersel kan ’n klein bietjie water bygevoeg word – gebruik baie min. Vir ’n stywer versiersel kan ’n klein bietjie versiersuiker bygevoeg word.

Amandel-pasta
  1. Klits die eier en brandewyn saam.
  2. Meng die versiersuiker met die amandelmeel en werk dit geleidelik by die eiermengsel in, tot ’n stywe pasta wat maklik kan uitrol.