Thursday 26 March 2015

Olyf, Okkerneut & Suurlemoenbrood :




Olyf, Okkerneut & Suurlemoenbrood :
Hierdie is my gunsteling Olyfbrood: dit is gepak met lekker geure en teksture. Geniet die brood met Bokmelkkaas en vars Vye.

(Maak 1 Groot brood)
400gr. Water...
1 Eetlepel Kitsgis
500gr. Witbroodmeel
10gr. Sout
1 Koppie Olywe, sonder pitte
1 Koppie Okkerneute, gerooster en gekap
Skil van 2 Suurlemoene
1 Teelepel gemengde en gedroogde Kruie
Metode:
Gooi die Water en die Kitsgis in ‘n mengbak en roer. Hou eenkant tot benodig.
Meng nou die Okkerneute, Suurlemoenskil, Kruie en Olywe saam en hou eenkant.
Plaas nou die Broodmeel en Sout saam in ‘n groot mengbak, voeg die Gismengsel versigtig by en dan die Neutemengsel. Meng tot al die meel geabsorbeer is.
Bedek die mengbak met Kleefplastiek en laat vir 30 minute rus.
Roer die deeg elke 30 minute vir ‘n paar sekondes, laat die deeg vir 30 minute rus na elke roer en herhaal die proses vir 3 ure. Teen hierdie tyd sal die deeg mooi glad wees en baie blink.
Gooi die deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlak.
Begin om die deeg versigtig te knie en dan in ‘n bal te vorm. Plaas die deeg in ‘n broodmandjie of op ‘n bakplaat en bedek met ‘n nat lap. Laat die brood vir 40 minute tot ‘n uur rys. Die brood moet min of meer verdubbel in volume. Indien jy die brood laat rys het in ‘n broodmandjie, keer dit versigtig uit op ‘n bakplaat.
Maak ‘n paar vlak snye bo-oor die brood en bak teen 240°C vir 10 minute. Verlaag die temperatuur tot 180°C en bak vir ‘n verdere 50 minute.
Verwyder die brood uit die oond en laat afkoel vir ‘n paar ure voor jy dit sny.
Wenk:
Indien ‘n bros kors verkies word, plaas ‘n bak met water in die oond sodra jy die oond begin verhit. Maak seker jy het genoeg water in die pan vir die hele baktyd.