Wednesday 3 December 2014

Stap vir stap: Ontbeende en gevulde lamsboud




STAP VIR STAP: Ons wys jou hoe om ’n lamsboud te ontbeen sonder om die vleis oop te kerf. Dié tegniek gee vir jou ’n holte wat jy met iets lekkers kan vul

Genoeg vir: 6-8
Bereidingstyd: 1 uur
Gaarmaaktyd: omtrent 1 uur 15 minute
Oondtemperatuur: 220 ˚C

• 2,5 kg lamsboud
• takkies tiemie (suurlemoen of gewoon)
• 45 ml rooiaalbessie-jellie
• 6 knoffelhuisies, fyngedruk
• 45 ml Dijon-mosterd
• 45 ml port

Vulsel
• 25 ml botter
• 1 middelslag-ui, fyngekap
• 1 knoffelhuisie, fyngedruk
• 10 ml Marokkaanse spesery-vryfmengsel
• 100 ml room
• 600 g spinasie
• 2 groot eiergele, liggies geklits
• 50 ml (40 g) sagte droë appelkose, fyngekap
• 120 ml (50 g) dennepitte of amandels, fyngekap

Ontbeen die lam1 Sit die boud op ’n snybord met die ronde kant na jou toe. Gebruik ’n ontbeenmes en begin al om die been sny wat in die middel van die vleis sit. Sny so na aan die been as moontlik.


2 Sny al om die been tot jy by die gewrig uitkom. Sny deur die gewrig – wikkel die been soos jy sny tot dit los is.
lam 2

3 Sny net so om die been aan die ander kant tot dit loskom.
lam 3

4 Die twee bene wat jy uitgehaal het, het ’n holte in die vleis gelaat. Steek die nou kant met tandestokkies toe.
lam 4

5 Skep die holte vol vulsel.
lam 5

6 Steek die holte toe met tandestokkies.
lam 6

Oondbraai die lamSit tiemietakkies in ’n gesmeerde oondpan. Sit die gevulde boud bo-op die tiemie. Mikrogolf die rooiaalbessie-jellie tot net gesmelt. Roer die knoffel, mosterd en port daarby. Smeer dit oor die boud. Oondbraai vir 20 minute per 450 g. Sit 20 minute by as jy die vleis medium-gaar wil hê. Bedruip dit een of twee keer terwyl dit in die oond is. Laat rus vir 20 minute en sny.