Thursday 4 December 2014

Kerskrans-poeding




Kerskrans-poeding
Al wat jy nodig het…
Gebak is nie iets waarmee mens sukkel nie. Dis of perfek, of dis ’n flop. Daar is tonne resepte vir choux-deeg. Hierdie een van Mary Berry (Engelse doyenne van al wat ‘n gebak is) werk elke keer vir my.
120g botter (nié margarien nie!)
250ml water
150g koekmeel
4 eiers
paar druppels vanielje ekstrak (opsioneel, dis my byvoeging)
500ml room
1E brandewyn
4E amandelvlokkies, gerooster in ’n pan of die oond tot ligbruin
versiersuiker
Voorverhit jou oond tot 200 grade Celsius. Smeer ’n bakplaat met botter en strooi koekmeel oor. Keer ’n mediumgrootte bord (so 17cm in deursnit) op die bakplaat om en gebruik jou vinger om ’n sirkel regom die bord deur die meel te trek. Verwyder die bord.
Sit die botter en water in ’n dikbodempot op ’n medium hitte. Sodra die botter gesmelt is en die mengsel kook, verwyder dit van die hitte. Gooi onmiddellik die meel (alles op een slag) by die water/botter mengsel. Roer flink met ’n houtlepel tot die mengsel van die kante van die pan af wegtrek en ’n bol vorm.
Klits een eier saam met twee druppels vanielje ekstrak en gooi dit by die deeg. Roer met ’n houtlepel tot die eier met die deeg geïnkorporeer is. Herhaal met die orige drie eiers. (Moenie Slimjan speel en dink jy kan tyd spaar deur al die eiers op een slag by te gooi nie. Een-vir-een is wat hy vra. Dit mag dalk lyk of die deeg nóóit al die eier gaan vat nie. HOU AAN ROER, ALLES SAL REGKOM! As die mengsel satynglad is, is hy reg. Skep gelykvol lepels van die deeg op die sirkel wat jy op die bakplaat getrek het. Sit dit in die oond en bak vir 40 minute. Skakel die oond af en hou dit vir nog 10-15 minute in die oond. Verwyder en laat dit heeltemal afkoel op ’n draadrak. Gebruik ’n broodmes om dit in die helfte te sny. (Jy kan die krans die vorige dag tot op hierdie stap klaarmaak en toedraai in kleefplastiek.)
Klits die room styf. Die deeg het nie suiker in nie, so jy het soet room nodig. Ek verkies om versiersuiker of strooisuiker te gebruik om dit te versoet, suiker is te grof. Vou die brandewyn by die geklopte room. Skep die brandewyn-room mengsel op die onderste laag van die krans. Sit die boonste laag op. Strooi amandels en versiersuiker bo-op en versier met sjokoladesterre en goue sjokolade balletjies.
Om sjokoladesterre te maak, smelt ’n blok witsjokolade. Sit dit in ’n klein plastiek-toebroodjiesakkie en draai dit sodat die sjokolade alles in een hoek sit. Knip die hoekie van die sakkie af (so klein as moontlik) en jy het ’n kits pypsakkie. Vorm sterre op ’n bakplaat gevoer met waspapier. Om die goue sjokolade balletjies te maak, is net so maklik. Rol Chuckles malt-sjokolade balletjies (by Woolworths) of Maltesers in eetbare gom en dan in eetbare goue of silwer ‘glitter’. (Skiet my, maar ek weet nie wat ‘glitter’ in Afrikaans is nie. Jy sal albei by spesialis bakwinkels kry.) Sit die sterre en balletjies in die yskas tot jy hulle nodig kry. Ek beveel aan jy maak hulle die vorige dag, sodat daar Kersdag niks werk is nie.
Nog blink idees vir jou Kerskrans
1) Vervang die brandwyn-room met ’n mengsel van 250ml versoete, geklopte room gemeng met 250ml vars koue vanieljevla van Woolworths – die vars een wat jy in die yskas sal kry, nie ’n ding uit ’n boks nie.
2) Of meng 500ml versoete, geklopte room met ’n paar stewige eetlepels winkel ‘lemon curd’.
3) Vir ’n minder ‘bling’ poeding, los die sterre en balletjies uit. Gebruik ’n wit en rooi gestreepte Franse lint om ’n groot strik te maak. Steek dit aan die poeding vas, nes ’n regte Kerskrans! Bedien dit op ’n mooi koekstander sodat die lint afhang. Tog te feestelik!
4) Smelt 100g gewone melksjokolade saam met 1E botter, 2 teelepels goue stroop en vier teelepels melk. Roer tot dit glad is. Vul die Kerskrans met geklopte, versoete room. Sny vars aarbeie oor – opsioneel. Sit die boonste laag op en skep die gesmelte sjokoladesous bo-op – ’n kits kolossale éclair waaroor die kinders mal gaan wees!
5) Vul die kors met vanieljeroomys. Sit die deksel op en terug in die vrieskas vir so tien minute om effe fermer te word. Strooi versiersuiker oor en, vir die mooi, ’n paar roosblare en jy’s klaar. Bedien met warm sjokoladesous.