Thursday 4 December 2014

Witsjokolade-en-tiemie-brosbrood & Hawermout met rooibosbessies en speserye




Witsjokolade-en-tiemie-brosbrood & Hawermout met rooibosbessies en speserye

Witsjokolade-en-tiemie-brosbrood
Maak ongeveer 16 koekies.
...
Jy het nodig:
200 g botter
200 g strooisuiker plus 30 g vir oorsprinkel
1 eier
420 g meel
1 vanieljepeul, saadjies uitgeskraap
5 ml vars tiemieblaartjies
100 g witsjokolade-splinters (of ’n plak witsjokolade, fyngekap)
Só maak ’n mens:
1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
2. Verroom die botter tot sag en donsig en voeg dan die strooisuiker bietjies-bietjies by terwyl jy aanhou klits.
3. Sodra al die suiker bygevoeg is, voeg die eier by en hou aan meng. 4. Voeg dan die vanielje-saadjies en tiemieblaartjies by en meng deeglik.
5. Sif die meel en meng dit by die ander bestanddele totdat ’n deeg vorm.
6. Voeg die witsjokolade by en meng liggies by die deeg.
7. Laat die deeg 20 minute in die yskas rus. Rol dit dan in ’n vierkant uit op ’n meelbestrooide oppervlak – die deeg moet sowat 2 cm dik wees.
8. Prik die deeg oral met ’n vurk en sny dan in stafies van 2 cm wyd.
9. Sprinkel die ekstra strooisuiker oor en laat dit nog ’n paar minute lank in die yskas rus sodat dit makliker is om die deegstafies op ’n gesmeerde bakplaat te pak.
10. Laat ’n spasie van sowat 2 cm oop tussen die stafies op die bakplaat.
11. Bak sowat 8 tot 12 minute tot ligbruin. Laat goed afkoel voordat jy probeer om dit van die bakplaat te verwyder, anders sal die koekies maklik breek.
Hawermout met rooibosbessies en speserye
Maak 16 koekies.
Jy het nodig:
160 g botter
100 g donker bruinsuiker
5 ml gemengde speserye
3 ml bakpoeier
200 g meel
160 g hawermout
40 ml gedroogde rooibosbessies
Só maak ’n mens:
1. Room die botter en suiker saam tot lig en donsig.
2. Voeg die gemengde speserye en bakpoeier by en klits tot gemeng.
3. Voeg die meel by om ’n deeg te vorm. Voeg die hawermout en rooibosbessies by en roer tot deeglik gemeng.
4. Gebruik jou handpalms om die deeg in redelik groot, plat koekies te vorm. Pak op ’n gesmeerde bakplaat en maak die kante netjies om mooi ronde koekies te vorm, of los dit met ’n bietjie karakter. Laat genoeg spasie tussen die koekies, want dit sit uit tydens die bakproses. Druk die koekies vir oulaas plat met ’n vurk en bak dan by 180 °C vir 12 minute.