Monday 10 November 2014

Gemmer kerskoek met melktertlae, masala makrolletjies en pekantameletjie




Gemmer kerskoek met melktertlae, masala makrolletjies en pekantameletjie (Kokkedoor Resep)
Rooibostee-jellieringe
 750 ml kookwater
 8 sakkies rooibostee
 125 ml suiker
 3 g agar agar
 3 gelatien velletjies
Gemmer sponskoek
 250ml (230g) botter
 250ml (175g) bruinsuiker
 2 ekstra-groot eiers
 125ml Gouestroop
 250ml Suurmelk
 10ml Koeksoda
 750ml (360g) Koekmeelblom
 1ml Sout
 250ml (220g) gemmerstukke – fyn gekap
Skilferkorsringe
 3 x 400 g gekoopte skilferkors
 160 ml botter, sag
 1 eier, geklits
 125 ml kruipsuiker (treacle sugar)
 15 ml fyn gemmer
 125 ml fyn gekapte pekanneute
 5 ml fyn kaneel
Melktertvulsel
 1.5 L melk
 60 ml botter
 1 vanieljepeul, middeldeur gesny
 1 kaneelstokkie
 1 stukkie suurlemoenskil
 1 stukkie nartjieskil
 4 eiers
 250 ml wit suiker
 150 ml mielieblom (maiziena)
 125 ml koekmeelblom
 Knippie sout
Makrolletjies met masala botterversiersel
 100 g versiersuiker
 100 g pekanneut meel*
 2 eiers
 Knippie sout
 60 ml strooisuiker
Masala botterversiersel
 250 g botter
 500 g versiersuiker
 30 ml melk
 5 ml vanieljegeursel
 45 ml masala poeier van jou keuse
Pekanneut tameletjie
 250 ml suiker
 60 ml water
 125 ml pekanneute, grof gekap

Instruksies

Rooibostee-jellieringe
 Voer 3 x 24 cm losboom ringpanne uit met kleefplastiek (cling film).
 Kook die water in ‘n pot.
 Gooi die teesakkies in, wanneer die water kook en maak ‘n sterk rooibostee.
 Gooi die suiker by en laat prut tot die suiker opgelos is.
 Bring vloeistof tot kookpunt en voeg agar agar by. Roer tot opgelos.
 Voeg die gelatine velletjies by die warm vloeistof en roer tot dit opgelos is.
 Laat die vloeistof afkoel tot kamer temperatuur.
 Verdeel die afgekoelde vloeistof tussen die 3 voorbereide ringpanne (met die kleefplastiek).
 Plaas in die yskas en laat stol.
Gemmer sponskoek
 Voorverhit die oond tot 160 °C.
 Verroom die botter en die bruinsuiker saam tot lig. Klits die eiers een-een by. Voeg die goue stroop by. Meng die suurmelk en koeksoda en voeg by. Meng deur. Sif die koekmeelblom en die sout saam. Vou dit beurtelings met die gemmerstukke by die bottermengsel en meng goed. Verdeel beslag tussen 3 x 24 cm voorbereide veerklamp-koekpanne. Bak ongeveer 45min by160°C of tot koek gaar is. Laat goed afkoel in panne en keer uit op afkoelrakkie.
Skilferkorsringe
 Voorverhit die oond tot 180 °C
 Spuit 3 los bodems van’n 24 cm koekpan met kleefvrye sproei.
 Maak die skilferkors oop, smeer 15 ml botter op. Vou dit toe, rol uit.
 Smeer weer botter op, vou toe en rol weer uit.
 Herhaal die proses met al die gekoopte skilferkors.
 Plaas op die voorbereide bodem van die pan en sny die oortollige skilferkors af.
 en smeer weer botter op en vou toe.
 Smeer die 3 skilferkors ringe met die geklitste eier.
 Verdeel die suiker tussen die skilferkors ringe en sprinkel eweredig oor die ringe.
 Volg dit met die fyn gemmer, pekanneute en kaneel.
 Bak in die oond teen 180 °C vir 20 minute of tot gaar.
Melktertvulsel
 Kook die melk, botter, kaneelstokkie, vanieljepeul en skille saam.
 Skei die eiers.
 Klits die eierwitte tot sagte punt stadium.
 Klits die eiergele saam met die suiker tot liggeel en sponsagtig
 Sif die koekmeel, mielieblom en sout saam.
 Meng met die droë bestanddele met ‘n bietjie melk op ‘n pasta te vorm.
 Verwyder die kaneelstokkie en vanieljepeul van die gekookte melk.
 Voeg die eiergeel en koekmeelpasta, beurtelings by die kookmelk mengsel. Dit moet bietjie vir bietjie gedoen word en om die beurt, sodat dit nie klonte maak nie.
 Vou die eierwitte by die mengsel en plaas mengsel eenkant.
Makrolletjies
Voer ‘n bakplaat uit met bakpapier.
 Voorverhit die oond tot 140 °C.
 Sif die versiersuiker en pekanneutmeel twee keer saam.
 Skei die eiers.
 Klits die eierwitte en sout tot sagte punt stadium.
 Voeg die strooisuiker bietjie vir bietjie by die eierwitte en klits tot die eierwitte dik en blink is.
 Vou versigtig die meel en versiersuikermengsel by die eierwitte.
 Plaas mengsel in ‘n spuitsak en maak sirkeltjies op ‘n voorbereide bakplaat.
 Bak vir 7-8 minute. Maak die oonddeur oop om van die stoom te laat ontsnap.
 Bak vir ‘n verdere 7-8 minute. Die makrollejties is reg wanneer hulle bietjie gerys en ferm is.
Masala botterversiersel
 Room die botter met klitser tot sag.
 Voeg gesifde versiersuiker, bietjie vir bietjie by.
 Voeg die melk by om jou mengsel gladder te kry.
 Voeg die vanieljegeursel by en meng goed.
 Rooster die marsala poeier in ‘n droë pan vir ‘n paar minute.
 Meng dit goed deur die botterversiersel.
 Gebruik dit om die makrolletjies bymekaar te sit.
Pekanneut tameletjie
 Voer ‘n bakplaat uit met bakpapier en spuit goed met kleefvrye sproei.
 Sprinkel die pekannute oor die bakpapier.
 Gooi die suiker in die middel van ‘n pan. Gooi die water aan die buitekant van die pan.
 Plaas die pan oor ‘n lae hitte en skud die water dat dit stadig die suiker natmaak.
 Laat die suiker stadig karamaliseer. Wees versigtig om dit nie te brand nie, hou dus die hitte laag.
 Wanneer die suiker gesmelt en dit mooi bruin is, gooi dit bo-oor die die pekanneute. Wees versigtig, suiker is baie warm.
 Laat dit afkoel en heeltemal stol. Breek in skerwe.
Om die koek aanmekaar te sit
 Neem die koekbord waarop jy die koek wil bedien.
 Sit die eerste sponskoek neer, volg dit op met die rooibostee-ring, dan die skilferkors-ring, dan met die melktertvulsel en herhaal die lae.
 Om te versier, plaas die makrolletjies op die laaste laag melktertvulsel en rond af met die tamaletjie-skerwe.