Wednesday 15 October 2014

Verf houtmeubels




Verf houtmeubels
Jy benodig
• grondlaag vir hout
• verf in die kleur van jou keuse
• verfstroper
• lakverdunner
• houtvuller
• verfkwaste en sponsrollertjies

• verfbak
• plastiekvel
• verfskraper
• nylon-borsel of sagte koperborsel
• latekshandskoene
• kaasdoek (‘mutton cloth’) of ou lap
• 80-grint-skuurpapier
• suikerseep
• maskeerband
1 Sit die item op ’n plastiekvel en was dit met ’n suikerseep-oplossing om van enige vuiligheid ontslae te raak. Plak mas- keerband op al die dele wat nie in aanraking moet kom met die verfstroper nie, soos materiaal, glas, deurknoppe en skarniere.
Wood-furniture-Step-1
2 Verf nou ’n dik laag verfstroper oor die hele item aan. Ons het Plascon se omgewingsvriendelike Removall All Purpose Paint Remover gebruik. Wend dit volgens die vervaardiger se aanwysings aan.
Wood-furniture-Step-2
3 Laat die item die vereiste tyd staan sodat die verfstroper met die verf kan reageer. Die verf sal begin afskilfer.
Wood-furniture-Step-3
4 Trek jou handskoene aan en gebruik ’n verfskraper om die verf wat loskom af te skraap.
Wood-furniture-Step-4
5 Neem nou ’n nylon-borsel of sagte koperborsel om die verf verder af te borsel. Laat dit droog word en skuur dan enige oorblywende verf met 80-grint-skuurpapier af.
Wood-furniture-Step-5
6 Gebruik ’n kaasdoek of ou lap en vee die hele item met lakverdunner af om enige oorblywende vuiligheid af te kry.
Wood-furniture-Step-6
7 Vul gate of skrape in die hout met houtvuller op, laat droog word en skuur glad. Vee die stof af. Verf nou die item met ’n grondlaag vir hout. Ons het Plascon se Wood Primer vir ongeverfde hout gebruik. Volg die vervaardiger se aanwysings noukeurig.
Wood-furniture-Step-7
8 Sodra die grondlaag droog is, kan jy twee tot drie lae verf in die kleur van jou keuse aanwend. Ons het Dulux Gloss Enamel in Flamingo Fun 1 gebruik. Laat die verf heeltemal droog word tussen lae.
Wood-furniture-Step-8
Tafeltjie se blad
Om af te rond het ons ’n koerantpapierpatroon van die tafelblad gemaak en dit op toile-papier nagetrek. Knip dit uit, verf ’n dun laag modge podge oor die tafelblad en sit die papier in posisie daarop neer. Vee lugborrels van die middel af liggies uit. Die vog in die gom sal die papier effe laat rek, maar dit sal weer krimp as dit droog is. Wend nou drie tot vier lae modge podge bo-oor aan – laat goed droog word tussen lae. Seël met hars of vernis wat nie sal vergeel nie of laat sny ’n glasblad om bo- oor te sit.
Nog wenke
• Skroef alle deurknoppe, handvatsels, skarniere, ens. af en bêre dit in gemerkte plastieksakkies totdat jy dit moet terugskroef.
• Stop skroefgate met stukkies opgerolde koerantpapier op sodat daar nie stroper of verf daarin kom nie.
• As jy ’n koperborsel gebruik, maak seker dis sag genoeg sodat dit nie die hout sal beskadig nie.
Vir hout en metaal
• Spuit jou verfskraper vooraf met kossproei sodat die verf nie daaraan vassit nie.
• As jy sukkel om met jou draadborsel êrens in te kom, kan jy ’n stukkie van die borsel se handvatsel afsaag.
• Sorg altyd vir goeie ventilasie.
• Indien al die verf nie die eerste keer afkom nie, kan jy nog verfstroper aanwend.
• ’n Hitte-geweer of haardroër sal die proses versnel.
• Vee die item af met lakverdunner. Dit verdamp vining en is gouer droog as water
(Idees)