Tuesday 28 October 2014

Jodetert




Jodetert

Maak self dié staatmaker van menige tuisnywerheid.

Genoeg vir: 1 tert (sowat 10−12 porsies)
Bereidingstyd: 1 uur
Oondtemperatuur: 180 °C
Baktyd: sowat 25 minute

KOEKLAE
• 800 ml koekmeel
• 20 ml bakpoeier
• knippie sout
• 400 g (500 ml) suiker
• 500 g botter, in blokkies gesny
• 4 eiers, geklits

VULSEL
• 1 liter melk
• 1 vanieljepeul, saadjies uitgeskraap
• 200 ml suiker
• knippie sout
• 3 eiers
• 100 ml meel
• 100 ml mielieblom
• 100 ml melk, ekstra

Variasies
• Gebruik dieselfde deeg en bak klein sirkeltjies vir happiegroot tertjies. Volg dieselfde proses as vir die Jodetert, maar gebruik net 3 klein lagies met vulsel tussenin vir elke tertjie.
• Jy kan dieselfde deeg gebruik en tertdoppies daarmee bak. Spuit die doppies vol vlavulsel vir ’n heerlike klein melktertjie.


Stap: 1

Maak die vulsel Verhit die liter melk, vanieljesaadjies, suiker en sout saam tot net onder kookpunt. Klits die eiers en voeg die meel, mielieblom en ekstra 100 ml melk by. Giet die warm melk by die eiermengsel en giet alles dan weer terug in die kastrol.
 

Stap: 2

Roer aanhoudend en kook die vulsel oor lae hitte tot dik. Laat afkoel.
 

Stap: 3

Berei die koeklae Sif die meel, bakpoeier en sout saam. Voeg die suiker by en meng. Vryf die botter met jou vingerpunte by die droë bestanddele in. Voeg die eiers by en meng tot ’n sagte deeg. Verdeel die deeg in 6 ewe
groot stukke – jy kan dit weeg om akkuraat te wees. Bedek die deeg en sit dit vir sowat 30 minute in die yskas. Rol
die deeg tussen twee lae bakpapier uit om makliker te hanteer (jy bak dit ook op ’n laag bakpapier sodat jy dit makliker uit die koekpan kan verwyder).
 

Stap: 4

Gebruik die bodems van losboomkoekpanne met ’n deursnee van 20 cm (of gebruik gewone koekpanne onderstebo). Spuit die bodems goed met kleefwerende sproei. Sny die gerolde deeg op die koekpanne se bodems
(of op die omgekeerde koekpanne) uit. Gebruik die oorskietdeeg sodat jy altesaam 7 koeklae het.
 

Stap: 5

Sny die rande netjies. Bak die koeklae in ’n voorverhitte oond vir sowat 25 minute of tot ligbruin. Laat staan tot afgekoel en lig elke laag versigtig met ’n eierspaan van die papier af – die lae is bros en sal maklik breek (moenie
die krummels weggooi nie). As jy nie genoeg koekpanbodems het nie, spuit die bodems dan elke keer voordat jy dit hergebruik.
 

Stap: 6

Spuit ewe veel vulsel met behulp van ’n spuitsak op elke koeklaag. Los ’n randjie rondom elke laag, anders gaan die vulsel uitpeul wanneer jy die lae opmekaar stapel. Stapel die koeklae met die vulsel dadelik versigtig met behulp van eierspane opmekaar. As jy enige krummels van die korse het, sprinkel dit oor die vulsellae. Bedek die Jodetert en sit dit in die yskas – verkieslik ’n dag voordat jy dit wil voorsit, sodat dit makliker sny.