Wednesday 8 October 2014

Gebakte hawermoutdoppies (“crunchies”) met Griekse jogurt en turksvye





Gebakte hawermoutdoppies (“crunchies”) met Griekse jogurt en turksvye
Genoeg vir: 6 tertjies
Bereidingstyd: 25 minute
Baktyd: 20 minute
Oondtemperatuur: 180 °C

Bestanddele:
• 120 g botter
• 110 g bruinsuiker
• 15 ml heuning
• 200 g hawermout
• 100 g gemengde droëvrugte en neute, gekap
• 60 ml klapper
• 5 ml kaneel
• Griekse jogurt
• ryp turksvye, geskil en gesny

1 Voorverhit die oond. Meng die botter, suiker en heuning saam in ’n kastrolletjie en roer tot gesmelt. Meng die hawermout, vrugte en neute, klapper en kaneel by en druk dit in ses 10 cm-losboomtertpannetjies. Bak dit vir 15 minute of tot goudbruin, en laat dit effens afkoel op ’n draadrakkie. Gebruik dan die agterkant van ’n lepel om ’n holte in die warm hawermoutdoppies in die pannetjies te druk. Werk vinnig, want sodra die hawermoutdoppies te veel afkoel, gaan jy sukkel om dit te vorm en uit die pannetjies te keer.

2 Haal dit uit die tertpannetjies en vul elkeen met jogurt en turksvyskywe.