Thursday 25 September 2014

Tee-ramisu



Tee-ramisu
Lewer 4-6 porsies.
 Die Kaapse sjef Morné Botha sit ’n rooibos-kinkel in dié gewilde Italiaanse nagereg.

Jy het nodig
 125 ml sterk rooibos
 60 ml brandewyn (opsioneel – vermeerder die rooibos as brandewyn nie gebruik word nie)
 15 ml heuning
 1 pakkie (125 g) sponskoekvinger­beskuitjies
 3 groot eiers, geskei
 35 g (30 ml) strooisuiker
 250 g mascarponekaas
 45 ml gebreekte amandelpralien of grondboontjiebroslekkers (peanut brittle)
Só maak ’n mens
 1. Meng die rooibos, brandewyn of ekstra rooibos en heuning in ’n klein vlak bak.
 2. Doop die vingerbeskuitjies in die vloeistof en rangskik dit onder in ’n vlak bak om die boom te bedek. Giet die helfte van die orige vloeistof waarin die beskuitjies gedoop is oor die vingerbeskuitjies in die bak.
 3. Room die eiergele en suiker saam tot dik en lig van kleur. Voeg die mascarponekaas by en meng tot glad.
 4. Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en vou dit in die mascarponemengsel.
 5. Skep die helfte van die mengsel oor die beskuitjies in die bak. Pak die res van die gedoopte beskuitjies bo-op en giet die res van die Rooibos-en-heuningmengsel oor die beskuitjies.
 6. Skep die res van die mascarponemengsel oor die beskuitjies en sprinkel die pralien bo-oor.
 7. Plaas ten minste vier ure lank of tot styf in die yskas.
Resep uit die kookboek 'n Tikkie Rooibos.