Wednesday 6 August 2014

Plant ’n pampoen of twee.




Plant ’n pampoen of twee.
Boerpampoen, groenpampoen, botterskorsie en skorsie – dié veelsydige groente is ’n móét in elke tuin. Pampoen is deel van die Cucurbitaceaefamilie en is verwant aan die spanspek en komkommer. Hoewel die verskillende soorte pampoen verskil in vorm, kleur, grootte en geur, het almal gewoonlik harde skille wat beteken dit kan lekker lank gebêre word – van een tot selfs ses maande! Pampoen kom oorspronklik van die wilde pampoene wat tussen Guatemala en M...exiko gegroei het. Hoewel dit nou al meer as 10 000 jaar lank geëet word, is pampoen aanvanklik slegs vir hulle pitte gekweek. Die vroeë variëteite het nie veel vleis gehad nie en die bietjie wat dit wel gehad het, was baie bitter en oneetbaar. Gelukkig het soeter variëteite mettertyd ontwikkel. Die waarde van pampoenpitte, wat vroeër veral in Mexikaanse kos gebruik is, is onlangs herontdek. Dis kraaklekker peuselkos en propvol voedingswaarde.

Al wat jy nodig het om jou eie pampoene tuis te kweek, is ’n stukkie grond in ’n sonnige
kol. Laat die saad eers binnenshuis ontkiem – die kinders sal mal daaroor wees om elke dag te loer of daar al iets aan die gebeur is.

Plantwenke
• Sit ’n paar sade tussen twee lae klam kombuispapier.
• Plaas die pakkie in ’n plastiekhouer en los dit in die kas. Vra die kinders om die pakkie klam te hou, maar nie deurweek nie.
• Kyk elke paar dae of die sade al ontkiem het.
• Plant dit dan in ’n sonnige, beskutte plek in die tuin. Berei die grond goed voor met kompos en maak seker die grond dreineer goed.
• Plant die sade sowat 5 cm diep en omtrent 60 cm uitmekaar aangesien pampoenplante nogal wyd sprei.

Kweekwenke
• Maak die eerste week elke dag nat en daarna twee tot drie keer per week, afhangende van die weer.
• Voed met ’n stadigvrystellende misstof soos 2:3:2.
• In die warm somermaande is dit belangrik om ’n behoorlike deklaag oor die grond te strooi om verdamping te beperk.
• Sodra ’n hele paar pampoene uit een plant begin groei, verwyder ’n paar as jy eerder minder, maar groter, pampoene wil hê.
• Pampoene het baie sonlig nodig om ryp te word – sny dus blare wat skadu op die pampoene gooi, af.

Oeswenke
• Pampoene is gereed om geoes te word as die skil hard is.
• Gebruik ’n skerp mes om die pampoenstronk van die hoofrank af te sny en wees versigtig dat jy nie die plant seermaak nie.

Peste en plae
Wees veral bedag op die pampoenvlieg en vra jou plaaslike kweker waarmee jy dit kan bespuit. Voorkoming bly maar jou beste verweer – maak seker die grond dreineer goed, moenie pampoene elke keer op dieselfde plek plant nie, beskerm die plante teen wind en hou gereeld dop vir enige tekens van besmetting.