Wednesday 30 July 2014

Thaise hoenderpotjiepastei



Thaise hoenderpotjiepastei
Maak 4 pasteitjies
Voorbereityd 20 minute
Baktyd 20 minute
...
Jy benodig
1 ui, gekap
2 eetlepels olie
6 hoenderborsies, in blokkies gesny
3 cm gemmerwortel, fyngerasper
2 knoffelhuisies, fyngerasper
½ teelepel matige kerriepoeier
’n hand vol kersietamaties, gekap
½ blikkie klapperroom
2 eetlepels vars koljanderblare, gekap
1 eetlepel suiker
sout en gemaalde swartpeper na smaak
Vir die mielieskon-bolaag
2 koppies meel
2 teelepels bakpoeier
’n knippie sout
¼ koppie botter
½ blikkie heelpitmielies
½ koppie karringmelk of Amazi
1 eier
So maak jy
Braai die ui in olie in ’n pot tot sag. Voeg die hoender, gemmer, knoffel en kerrie by en braai dit vir 2 minute. Roer die tamaties by en laat dit vir 3 minute prut. Gooi die klapperroom by en laat dit vir sowat 3 minute prut. Roer die vars koljander en suiker deur en geur dit na smaak met sout en peper.
Meng die droë bestanddele vir die kors en vryf die botter met jou vingerpunte daarby in totdat die mengsel soos droë broodkrummels lyk. Meng die res van die bestanddele sagkens met ’n houtlepel by tot dit ’n klam deeg vorm.
Verdeel die pasteimengsel tussen 4 klein potjies of blikbekers. Skep die skonbeslag versigtig bo-op die vleis. Plaas die potjies oor louwarm kole en sit ’n paar kole op die deksel totdat die bolaag uitgerys en gaar is – ongeveer 20 minute. Of bak die pasteie oop in ’n oond van 180 °C tot goudbruin.
Wenk
Jy kan ook een groot pastei maak deur ’n nr. 2-potjie of ’n oondbak van 20 cm x 25 cm te gebruik. Hierdie pastei is net so lekker met blaardeeg.