Tuesday 1 July 2014

Mielie-en-pampoenkoekies met ’n soetrissie-salsa




Mielie-en-pampoenkoekies met ’n soetrissie-salsa
Genoeg vir: 6-8...
Bereidingstyd: 1 uur
Gaarmaaktyd: 20 minute

• 2 vars mielies
• 75ml sonneblomolie
• 1 bossie sprietuie, gesnipper
• 1 rooi brandrissie, ontpit en gekap (opsioneel)
• 2,5ml rooipeper
• 2,5ml fyn wonderpeper
• sap van 1 suurlemoen
• 250g feta
• 300g pampoen, in die oond sag gebak
• 2 groot eiers, geskei
• 120ml melk
• 70g (100ml) koekmeel
• 2,5ml bakpoeier
• 50g (125ml) gruyère-kaas, gerasper
• 15g (1⁄2 pakkie) vars koljander-blare, gekap
• sonneblomolie vir diepvetbraai
1 Sny die mieliepitte van die stronke af. Verhit die sonneblomolie in ’n groot pan en soteer die mielies saam met die sprietuie en brandrissie (as jy dit gebruik) tot sag en effens verkleur. Gooi die ander speserye by en braai vir nog twee tot drie minute voordat jy dit van die plaat afhaal. Laat afkoel en gooi dan die suurlemoensap by.
2 Meng die res van die bestanddele (behalwe die eierwitte en sonneblomolie) en geur na smaak. Voeg die afgekoelde mieliemengsel by die beslag.
3 Klits die eierwitte in ’n aparte mengbak saam met ’n knippie sout totdat dit stywe punte maak. Vou dit versigtig in die beslag.
4 Verhit ’n dun lagie olie oor medium hitte in ’n groot pan en braai eetlepels vol van die beslag daarin. Druk dit met die agterkant van ’n lepel platter. Braai vir omtrent vier minute aan elke kant óf tot goudbruin en deurgaar.
5 Garneer die poffertjies met vars kruie en sit dit warm of by kamertemperatuur voor met salsa (resep hieronder). Jy kan ook nog feta en ’n bietjie paprika bo-oor sprinkel.
Rooisoetrissie-salsa
Verhit 15 ml sonneblomolie in ’n kastrol en soteer ’n halwe gekapte ui en drie gesnipperde sprietuie tot sag. Voeg 5ml wonderpeper, 2,5ml fyn kaneel, een fyngedrukte knoffelhuisie, een gekapte groen brandrissie en 30 g (30 ml) gekapte vars gemmer by en braai vir nog ’n minuut. Voeg 40ml bruinsuiker, een gekapte rooi soetrissie, twee gekapte ryp pruimtamaties en 75ml witwynasyn by. Laat vir 20 tot 25 minute prut, geur na smaak en laat afkoel. As jy nie tyd het om die salsa te maak nie, kan jy klaargemaakte tamatie-en-soetrissiesalsa koop.