Friday 11 July 2014

Kaneel rolletjies




Kaneel rolletjies (Pasella)
(maak sowat 20)
800 g meel
½ t sout
2 pakkies gis (10g elk)
100 g botter, gesmelt
350 ml melk
2 eiers
1 t fyn kardemom (opsioneel)
Kaneelbotter
2 t fyn kaneel
100 g strooisuiker
100 g botter, saggemaak
1 eier, om bo-oor te smeer
Meng die meel, sout en gis. Voeg die botter, melk, eiers en kardemom (as jy dit insit) by en roer by die meelmengsel. Knie tot glad en sag met albei hande of gebruik die deeghaak in jou menger.  Dit sal ongeveer 5 minute neem. Plaas in 'n geoliede bak en bedek. Laat staan sowat een uur op 'n warm plek om dubbel in grootte te rys.
 Maak intussen die kaneelbotter deur die kaneel, suiker en botter saam te meng. Strooi meel op 'n oppervlak en rol die deeg ongeveer 3 mm dik uit (as jy klein spasie het, rol dit stuk vir stuk uit). Smeer die kaneelbotter op die deeg en rol dit soos 'n worsie op. Sny 2 cm uitmekaar*. Pak die snye naby mekaar op 25 x 20-cm bakplaat met die oopkant bo. Verf met die geklikste eier en laat staan 15 tot 30 minute om weer te rys. Bak 20 tot 25 minute by 180ºC totdat dit goud is. Bedien lekker warm of by kamertemperatuur.
 *Nog 'n metode:
Om individuele rolletjies te maak, sny die deegworsie effens diagonaal in vet ‘v’ vorms. Die onderste deel van die ‘v’ moet omtrent 2 cm wees en die bo-kant 5 cm. Draai hulle om sodat hulle op hul vet dele rus. Druk met twee vingers bo totdat jy amper by deurdruk tot onder. Jy sal sien hoe die kaneelstrepies na buite beur. Plaas die rolletjies op 'n bakplaat wat met olie gesmeer en waspapier uitgelê
 is. Laat genoeg spasie tussen-in sodat hulle lekker kan uitpof. Verf met geklitste eier en laat rys. Bak soos bo.