Monday 14 July 2014

Apfelstrudel




Apfelstrudel
225 g koekmeel (met 'n hoë gluteninhoud) ...
knippie sout
1 teelepel suurlemoensap of asyn
1 teelepel botter
sowat 140 ml warm water
sowat 1/2 koppie gesmelte botter

1. Sif meel, sout op 'n skoon deegbord. Maak 'n dammetjie in die middel en giet suurlemoensap in.
2. Werk botter in. Voeg genoeg warm water by om 'n sagte deeg te vorm.
3. Knie goed totdat dit blasies vorm. As die deeg goed deurgewerk is, vorm 'n bal en borsel dit ligweg met gesmelte botter. Bedek met 'n warm bak. Laat rus 'n halfuur lank in 'n warm plek.
(Die vulsel kan intussen voorberei word.)
4. Bedek nou die kombuistafel met 'n skoon doek en bestrooi liggies met meel.
5. Plaas die deeg in die middel en rol uit. Skuif jou hande onder die deeg in en trek liggies na buite. Moenie gaatjies in die deeg maak nie. As die deeg so dun is soos perkament, bestryk dit met gesmelte botter.
Vulsel
900 g appels
1 teelepel suurlemoensap
110 g strooi- of versiersuiker
1 eetlepel vanielje-suiker
knippie elk kaneel, neutmuskaat en naeltjies
85 g pitlose rosyne
100 g fyn broodkrummels
100 g botter
60 g gesmelte botter, plus gesmelte botter om oor die deeg en bakplaat te verf
1. Skil, ontkern en sny die appels in skywe. Plaas in 'n bak. Besprinkel met suurlemoensap, suiker, vanieljesuiker en speserye. Voeg rosyne by en bedek die bak.
2. Braai die broodkrummels in botter tot goudbruin. Sprinkel die gebraaide broodkrummels eweredig oor die uitgespreide deeg, sprinkel die appelvulsel oor die oppervlak.
3. Skeur die dik deel van die pastei af en begin die Strudel rol deur die doek te lig.
4. Skuif die die Strudel oor op 'n bakplaat wat met botter gesmeer is.
5. Bak by 180C vir veertig tot 45 minute.