Friday 27 June 2014

Sardynepastei




Renette Vosloo

Sardynepastei

Ek maak n lekker korsie: vir n groot gesinspastei, waarvoor ek 2 blikke sardyne sal gebruik, neem ek 'n koppie-en-'n half koekmeelblom, 125g bot...terblokkies. Geur eers die meel met tannie Ina se heerlike Roosmaryn en Olyfsout, (seker n goeie eetlepelvol) en so 'n bakhandjievol suiker. 1 Teelepel bakpoeier ook in. Blits in die K-mix (as jy wil...vir minder skottelgoed gebruik ek my vingertoppe -handewas is makliker en die vrywery meer sensueel).Wanneer dit mooi krummelrig is, meng ek een eier en n klein bietjie koue melk by.Slapperige degie is wat jy wil hê. Laat vir degie maar net so in die mengerhouer in die yskas, koue deeg is in alle instansies die beste.

Verhit solank die oond 190c.

Nou sny ek uie in kleinerige dobbelsteentjies. Lekker baie uie, sommer 2 tot 3 mediumgroot uie. Dit moet n hele laag vorm oor die bodem van die pastei. Braai die uie in botter tot net-net deursigtig, amper nog knarserig en glad nie bruin nie.

 Rasper n klomp Cheddarkaas, jy moet so 3 koppies gerasperde kaas he.
Sny twee blikke Sardyne in Tamatie oop (moenie die blikke weggooi nie jy gaan hulle eers "uitspoel".

Smeer nou n dieperige pasteibak van jou keuse en voer uit met jou deeg. As die degie slap genoeg is, smeer jy hom sommer met die agterkant van 'n lepel oor jou bak.

 Bak die deeg (hoef nie blind te wees nie) vir so 10 minute net om hom bietjie aan die gang te kry.
Sprinkel dan al die uie oor die kors en pak daarna die sardiens wat jy growwerig gebreek het, bo-oor dit. Spei die kaas bo-oor.

Volgende daai blikke: maak elkeen so n derde vol met kokende water en spoel die blikke. Giet in n maatbekertjie. (Nou mag jy maar die blikke weggooi, behalwe as jy soos ek, so baie van daai etikette hou dat jy hulle sommer uitwas en bere vir die volgende braai met nklomp rokers aan die kuier).
Klits so 'n halfkoppie All Gold Tamatiesous saam met die sousie in die maatbekertjie. Mielie hou van soet tamatiegeregte, so ek sit so 1 teelepel suiker en n bietjie sout en peper ook in; klits sommer met n vurk. Giet dit oor die kaas; kyk dat jy van die sous oral kry. Skud die bak liggies om die sousie n bietjie te laat insak.

Dan kan jy jou pastei bak vir so 44 minute. Rooster van bo af vir nog so 5 minute.
Lekker saam met koolslaai (nie 'n mayonnaise ene nie; ene met Miielie se lekker asyn, knoffel, wild baie swartpeper, suiker, sout en olyfolie - net dit, op fyngesnyde kool...so vir n uur laat staan. Magies!(magical)