Friday 6 June 2014

Rolpens met ham, kerriesous




Hetta deel haar rolpens-resep
Rolpens met ham, kerriesous

Genoeg vir 6 persone

Sny ‘n groot skaappens in netjiese reghoeke. Jy kan kies om klein rolletjies te maak – dan sny jy die repe min of meer so groot soos ‘n handpalm. In die bygaande foto het ek lang, groot rolle gemaak. Sny ‘n stafie spek (ek gebruik ontbeen en gerookte varklies) so dik soos jou wysvinger vir elke lappie skaappens wat jy kon uitsny. Sit nou die stafie spek in die middel van die skaappens en rol dit styf op, bind goed vas met katoentou. Sit al die rolletjies skaappens op die bodem van ‘n swaarboomkastrol, geur met sout, ‘n paar peperkorrels, ‘n skoongemaakte wortel in growwe stukke gekap, 2 lourierblare, grepie foelie of neutmuskaat en 3 korrels wonderpeper. Bedek met water en laat dit stadig stowe vir 3 tot 4 ure, tot die skaappens sag is. Voeg water by gedurende die kooktyd indien nodig.
Maak intussen ‘n kerriesous met:

Olie om te soteer (of botter)
1 ui, fyn gekap
2E kerriepoeier
1t mosterdsaad
2 peule kardammom, fyn gemaak
3 knoffelhuisies, fyn gekap
1t vars gemmer, fyn gekap
1 seldery stingel, skoongemaak en fyn gekap
1 wortel, skoongemaak en fyn gekap
1 chilli (opsioneel)
1E appelkooskonfyt
Sout en peper na smaak

In ‘n braaipan, soteer die ui tot gaar in die olie. Voeg die kerriepoeier, mosterdsaad en kardammom by en soteer vir 3 minute. Voeg dan die res van die bestanddele by. Laat dit vir nog ‘n minuut saam braai. Trek jou sousie Kerrie van die stoof af tot die laaste halfuur voor die rolpens amper gaar is en daar min vloeistof oor is (so 1 ½ koppie). Verwyder die heel speserye en die wortel uit die kokende vloeistof en voeg dan die kerriemengsel by. Laat dit vir 30 minute lekker deurkook. Geur met sout en peper na smaak.

Ek sit die rolpens voor met rys of ‘n lekker tamatie-en-uie slaai.

‘n Alternatiewe metode vir rolpens is om jou gunsteling grofgemaalde vleisvulsel (soos wat jy wors sou maak) in ‘n pens te stop. Jy werk netjiese worsvorms met ‘n naald en gare uit die pens, of soos die foto hieronder wys, kan jy ook ‘n lekker vet wors maak met die blaarpensie. Jy stowe dit ook stadig gaar soos vir bogenoemde resep en wanneer jy klaar is kan jy dit pekel en pars (sodat wanneer jy dit sny die tekstuur lekker ferm is en die wors nie verkrummel nie) en dit rook. Die oumense het dit in die skoorsteen gehang vir ‘n paar dae om te berook. Ek gebruik gewoonlik ‘n mengsel van bees- en varkmaalvleis, skaapvet, gaar gepekelde beestong (of skaaptongetjies) in dobbelsteentjies en enige spesery waarvoor ek die dag lus is. Ek het al saffraan gebruik, ‘n salie-koljander-naeltjiemengsel en tradisionele boerewors speserye, die vereiste is net dat jou vleis en vet lekker grof gemaal moet wees. Ek hou besonder baie van die metode om dit in ‘n pensvel te stop vir die heerlike afval geur. Hetta Van Deventer Terblanche.