Friday 6 June 2014

Herderspastei met lam




Herderspastei met lam

Bedien 3 - 4
1 groot ui, gekap
2 wortels, geskil en gekap
150gr sampioene, gekap
1 Rooi soetrissie, in blokkies gesny
2 Knoffelhuisies, fyn gekap
3 Takkies vars roosmaryn of tiemie
Ongeveer 500 gr lamsboud, in stukke gesny
1 pakkie tamatiepuree
1 koppie rooiwyn
2 koppies aftreksel
Sout en peper na smaak
Sap van 1 suurlemoen
½ koppie gevriesde ertjies
Vars pietersielie en kruisement na smaak, gekap

Fyngemaakte groente-bolaag:
1 Botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
1 Soetpatat, geskil en in blokkies gesny
3 Wortels, geskil en gekap
60gr. Botter
Sout en peper na smaak
¼ t Neutmuskaat

• Begin deur die lamsboud in klein stukkies te sny en plaas eenkant.
• Drup olyfolie in ‘n groot oondskottel en voeg die uie, wortel, sampioene en soetrissie by sodra warm. Roer totdat dit begin sag word.
• Voeg nou die stukke lam, knoffel, tiemie en roosmaryn by en roer vir sowat ‘n minuut.
• Voeg die tamatiepuree by die pot en roer goed. Laat toe om vir twee minute te kook voordat die kasserol met rooiwyn verglans word.
• Gebruik ‘n houtlepel en skraap die boom van die pot totdat al die soliede stukkies loskom.
• Voeg nou die aftreksel by, roer goed en laat toe om te verminder totdat die sous begin verdik.
• Geur met sout, peper en suurlemoensap.
• Voeg die gevriesde ertjies, kruisement en pietersielie by. Skep die mengsel in ‘n oondbak en plaas eenkant terwyl die fyngemaakte groente berei word.

Vir die Fyngemaakte groente:
• Plaas ‘n klein hoeveelheid water in ‘n mediumgrootte pot saam met al die groente vir die bolaag. Sit die deksel op en kook totdat dit sag is. Verwyder die deksel en kook verder totdat die meeste van die water verdamp het.
• Voeg nou die botter, sout, peper en neutmuskaat by en maak fyn.

Om die dis aanmekaar te slaan:
• Smeer die fyngemaakte groente oor die lam in ‘n laag wat die hele oppervlak van die dis bedek.
• Bak in ‘n voorverhitte oond teen 180°C totdat dit dwarsdeur verhit is (ongeveer 10 minute).