Makietie Troue in die perde stalle
As daar een ding is wat ons Suid Afrikaners weet hoe om te doen, is dit om ‘n troue te hou. Ons almal onthou nog die dae toe die gastelyste hier by 300 of 400 gaste gedraai het en die hele gemeenskap omtrent moes inspring om die jong paartjie se dag spesiaal te maak. Die hele kerk is vol gesit en almal was uitgenooi. Daar is vir dae lank aan mekaar gekook en reggemaak en die fees het sommer al ‘n paar dae voor die tyd begin.
Deesdae het trou in ‘n kunsvorm verander en peperduur geword. Ons besluit om ‘n paar jaar terug te gaan in die geskiedenis en ‘n Makietie-plaas-troue aanmekaar te sit wat nie die totale som van die plaas opmaak nie.
Ons buurman se perdestalle op Uitkijk word reggemaak vir die groot dag, ons kook en maak mooi en laat die stof staan. Daar word ge-Makietie en gedans tot ounag toe.
Soos die laaste strale oor die Paardeberg sak en die aandster homself aankondig, staan ek buite die stalle, met emmers vol koue vonkelwyn waarvoor die gaste wag, en wonder waarvoor dan al die dinge ? En dan besef ek dit is immers belangrike sake hierdie en soos die spreekwoord lui: Trou is nie perdekoop nie!
Makietie Troue Spyskaart
Cacik: Koue komkommer en yoghurt sop
Geroosterde plat hoenders
Geroosterde lamsrol met kakao splinters en koljander
Kokkedoor groente tert
Brosgebraaide Skaapvet aartappels
Kaaskoek
Cacik
Koue komkommer en jogurt sop
Hierdie is ‘n wonderlike ou Turkse gereg en gaan altyd goed af in die somer. Die wonderlike ding is dat dit ‘n basis resep is waarop jy soveel wonderlike dinge kan sit. As die seisoen reg is, is daar vars granate, vye, vars koljander en basieliekruid, komkommer, blomme en groen olyfolie....
3l dik griekse jogurt
1 liter vars volroom melk
3 gerasperde komkommers
200ml olyf olie en nog vir bo op
5 huisies gerasperde knoffel
Vars granate, vye, rooi druiwe
vars gemaalde witpeper na smaak
Meng al die bestandele behalwe die vrugte en kruie saam en laat in die yskas staan vir sowat 2 ure. Skep in borde op en garneer met die granate, vye, kruie en olyfolie om n prentjie te vorm.
Geroosterde Heel Plat Hoenders
Heel plat hoender op die kole met roosmaryn, knoffel olie, sojasous en sesame sade. Hierdie resep is een van ons gunsteling resepte en is baie makliker as wat jy sou dink. Ons hou van die sesame sade want dit gee ’n lekker neutagtige smaak aan jou finale produk. Hier moet jy maar jou gaste ken en genoeg maak.
- 4 Heel organiese hoenders
- 1 koppie olyfolie
- 1 koppie sojasous
- 2 eetlepels heuning, bloekom werk baie goed
- 3 groot takkies roosmaryn
- Die skil van 1 groot suurlemoen, hou die sap vir na die tyd
- 6 huisies gerasperde knoffel
- 100g ongeroosterde sesam sade
- Vars gemaalde swartpeper na smaak
- Berei die hoenders voor deur die bors gedeelte te sny met ’n skerp kombuissker of mes. Wees net versigtig met hierdie proses. Kraak hom nou oop sodat hy plat lê dat al die geure kan intrek van beide kante af. Meng die olie, soja, heuning, gekapte roosmaryn, suurlemoenskil en knoffel saam en marineer die hoender vir sowat 30 minute. Jy kan selfs die hoender die oggend voorberei as jy die aand gaan braai. Hoe langer hy lê, hoe beter.
Dit is ook baie belangrik dat jy hier ’n vuur maak wat lank gaan warm bly en nie vinnig koud sal word nie, want jou hoender braai sowat 35 minute. Dit hang wel ook natuurlik af van die dikte van die kiep.
Braai die hoender deur gereeld te draai sodat die sous op die hoender nie brand nie en dat hy deeglik gaar kan word soos jy braai. Bedruip die hoender met die oortollige sous wat in die bak oorgebly het soos jy braai.
Sodra jy die boudjie van die hoender met gemak kan losbreek, weet jy die hele hoender is gaar want dit is die deel van die hoender wat die langste vat om gaar te word. Wanneer dit gebeur kan jy die hoender met die sade sprinkel asook muldelik met swartpeper geur.
Wanneer die sesam sade kleur gekry het kan jy die sap van die suurlemoen oor die hoender uitdruk en dit van die vuur afhaal. Laat rus die hoender sowat 15 minute voor jy aan hom sny sodat die sappe in die vleis kan teruggaan en nie uitloop as jy hom sny nie.
Ontbeende lams rol met Kakao splinter en koljander smeer
Tiaan het hierdie idee gekry by ’n Potjiekos-kompetiesie wat hy beoordeel het. Dit is ’n puik plan om hierdie snit voor te berei sonder dat jy bene betrokke het. Jy gaan wel die bene gebruik om ’n lekker sous te maak waarmee jy na die tyd die vleisie gaan bedruip.
2-3 heel rakke van lam
100g geroosterde en fyngemaakde koljander sade
50g growwe sout
100g kakao nibs
1 peul vanilje
2 suurlemoene se sap
Vir die sous
2 wortels
2 medium uie, gekap met skil en al
2 ster anys
1tl swart peper korrels
Bietjie vars tiemie
1 bottel rooiwyn
4l lam aftreksel
Sny nou eers die vet gedeelte van die rak af asook die fillet gedeelte. Rol nou die fillet gedeelte in die vet gedeelte en geur met die koljander mengsel. Onthou om die bene te hou vir die sous.
Bind die rol stewig vas met tou en geur aan die buitekant ook. Braai in ’n warm pot of oor die vuur tot al die vet uitgebraai is. Haal van die hitte af en laat bietjie rus terwyl jy die sous maak.
Braai nou die bene, uie, wortels, anys, peper, vanilje en tiemie in ’n pot tot die bene lekker kleur het en die geure van alles saam smelt. Voeg die hele bottel rooiwyn by en kook af tot daar amper niks oor is nie. Voeg die aftreksel by en kook die sous tot hy effe dikker word. Gooi dit deur ’n sif en hou warm.
Sit die lam in ’n matige oond van 180 grade tot medium aan die binnekant. Bedien met die sous.
Kokkedoor Groente Tert
Ons het in kokkedoor so ’n tert gemaak met vleis en spek in maar in hierdie geval gaan dit net ’n groente tert wees met ’n lekker growwe parmesaan kors.
- 3 koppies meel
- 3 koppies verouderde kaas, gerasper
- 2 koppies gerasperde koue botter
Hier kan jy nou lekker speel. Gebruik enige groente van jou keuse, maar wat goed werk is die volgende:
- Murgpampoentjies
- Eiervrug
- Soet pepers
- Botterskorsie
Maak nou ’n mengsel van 2 liter room met 24 heel eiers. Geur met sout en peper asook drie koppies gerasperde kaas. Meng goed.
Skep nou die groente in die voorbereide korse en giet die mengsel bo oor. Bak weer in ’n voorverhitte oond van sowat 160 grade tot net gestol. Haal uit en laat staan net vir so 15 minute voor jy aan hulle sny.
Mense gaan hulle lippe af lek.
Brosgebraaide Skaapvet Aartappels
Aartappels met skil wat bros gebraai word in vet oor die vuur. Hierdie is ’n maklike manier om hulle voor te berei en gewoonlik almal se gunsteling.
- 3kg klein aartappeltjies
- 500g sagte botter of skaapvet
- 1 pakkie ontpitte olywe
- 1 houer songedroogde tamaties
- 1 groot hand vol pietersielie
- Genoeg swart peper
Kook klein aartappels tot gaar. Jy kan werk op so 3 tot 4 per persoon. Hang ook natuurlik af van al die ander kos.
Braai nou die warm aartappels in ’n groot genoeg pan in ’n bietjie olie sodat hulle effe kan bros word. Sodra dit gebeur kan jy lepels vol van die bottel mengsel wat jy gemaak het in skep en dit laat smelt. Mmmmm... nou water ons monde!
Kaaskoek, letterlik, - cambrini, brie, boerenkaas
Gaan soek lekker interresante kase waarvan jy weet almal sal hou. Kyk of jy dit in die heel vorm kan kry. Ek praat van kase soos cambrini, heel boerenkaas, heel blou kaas wiele. Julle kry die idee.
Maak seker jy het genoeg kaas volgens die hoeveelheid mense wat kom. Stapel dan die kaas op mekaar in ’n laag koek manier sadat jy die grootste kase onder dit en dan so met die kleinste een eindig.
Versier die ‘kaaskoek’ met enige ding van ingelegde vrugte, vars vrugte soos druiwe en bessies. Gebruik ook vars geroosterde neute, heuning en suiker neute om die koek mee af te rond. Bedien die koek met baie vars brood waarvan mense dan stukke kan afbreek en dit geniet saam met die kaas.
Hierdie kan ook dien as ’n troukoek en spaar dan ook baie op die kos want jy kry basies ’n ekstra gang na die ete.
Makietie Troue Dekor Idees
- Begin met ‘n interssante onthaalsaal soos die perde stalle by Uitkijk. Iets wat mens nie gewoonlik aan sou dink nie en op ‘n interssante plaas of kleinhoewe lê
- Maak stringe liggies in die dak vas om genoeg romantiese lig te gee aan die aand
- Ons maak kers houers uit ou wyn balie hoepels met groen blare uit die tuin
- Ons maak blom balle met groengoed en blomme wat bo oor die tafels hang
- Vra elke paartjie se ouers vir hulle ou trou fotos en laat dit goedkoop afrduk en maak ‘n onthou-muur van almal se ou fotos
- Druk plekmatjies met iets oor die paartjie op asook die spyskaart
- Maak uitgeholde pampoene met geboorde gate in en kerse binne in vir ’n wonderlike atmosfeer en die reuk van gebakte pampoen
- Slaan sommer n kerkie aan mekaar uit ou wyn balies en strooi