Kaapse kerrie-maalvleis met kruisement, joghurt en komkommer-salsa
Orscilla Hitchcock en Ronel Theron
Porsies: 20 porsies
Bestanddele
Kerrie1 heel steranys
30 ml koljandersade
20 ml komynsade
15 kardamomsade, dop verwyder
15 ml mostertsade
30 ml borrie
± 30 ml rissiepoeier
20 ml gerookte paprika
Sout en peper na smaak
± 100 ml olyfolie en minder vir vleis met meer vet.
2 kaneelstokkies
1 kg maalvleis van keuse
200 ml goeie witwyn
100 ml suurlemoensap en skil
Sap en skil van 1 lemoen
45 ml fyn appelkooskonfyt
2 – 4 knoffelhuisies, fyngekap
2 – 4 vars chillies, fyngekap
Kruisement joghurt
500 ml ongegeurde volroom joghurt
75 ml vars kruisement, fyngekap
Sout en peper na smaak
Koel-komkommersalsa
1 groot heel komkommer
1 Granny Smith appel
4 takkies koljanderblare
Vars gemmer, pinkie grootte
15 ml heuning
Sap van 1 suurlemoen
Jaffels
40 snye brood van jou keuse.
Botter of margarine
Instruksies
Wenk: Al die komponente kan die vorige dag gemaak word. Die jaffels moet vars gemaak word op die dag van bediening. Die Kerrie kan gevries word. Die joghurt en salsa sal 2-3 dae goed in die yskas hou.1. Rooster al die heel sade in ‘n pannetjie oor laagste hitte totdat die komyn en mosterdsade begin skiet. Verwyder dadelik uit die pan om te verhoed dat dit brand en maak dit medium-fyn in ‘n vysel en stamper.
2. Voeg die borrie, rissiepoeier, gerookte paprika, sout en peper by.
3. Verhit ‘n groot kastrol op die stoof. Verhit die olie saam met die kaneelstokkies sodat die warm olie al die geure uit die kaneelstokkies kan trek.
4. Voeg die maalvleis en die speserymengsel by en roer aanhoudend tot lekker bruin gebraai.
5. Voeg die witwyn, suurlemoensap en skil, lemoensap en skil en appelkooskonfyt by, asook die knoffel en rissies. Verlaag die hitte na die laagste stelling en prut stadig tot gaar ± 20 minute.
Kruisement joghurt
Meng joghurt met kruisement. Geur met sout en peper na smaak. Hou eenkant in die yskas tot opdiening.
Koel-komkommersalsa
1. Skil die komkommer en verwyder die pitte. Kap fyn en plaas in ‘n bakkie.
2. Skil die appel en sny in klein blokkies en voeg by die komkommer.
3. Verwyder die koljanderblare van die takkies en kap fyn. Voeg by die salsa.
4. Skil die gemmer, kap dit fyn en voeg ook by.
5. Sprinkel die suurlemoensap oor – dit sal verhoed dat die appel verkleur.
6. Meng die heuning deur.
Jaffels
1. Verhit ‘n jaffelpan oor matige hitte.
2. Smeer die broodsnye aan die buitekant en plaas gaar maalvleis hopies op die brood, hou dit in die middel en vermy die kante reg rondom.
3 Rooster die jaffels oor medium hitte. Jaffels werk ook goed oor braaikole of ‘n gasvlam, maar kan ook op ‘n elektriese stoofplaat gemaak word.
4. Sny die jaffel oop soos ‘n toebroodjie. Plaas ‘n blertsie kruisement joghurt op die kerrievleis en versier met die koel-komkommersalsa.