Friday, 25 April 2014

Gerookte hoenderborsie op mieliekoek




Gerookte hoenderborsie op mieliekoek

Jay Oelofse
Porsies: 2

Bestanddele

2 hoenderborsies
50 g fyn sout
25 g suiker
Mieliekoek
1 koppie polenta
3 koppies water
1 Etl sout
2 mielies
Beet en beetstroop
6 klein beetjies
100 ml balsamiese asyn
100 ml suiker
200 ml water
Aspersies
10 aspersies geskil
Knoffel
1 knoffelbol
Hoendervel en afronding
2 hoenderborsie velle
½ koppie water
½ koppie suiker
½ koppie wit asyn
1 steranys
5 koljander-korrels
1 vinkelknol, dun gesny

Instruksies

Wenke:
*Maak seker dat die borsie nie droog raak nie.
*In plaas van die vinkel te pekel, kan die pekelsous oor die slaaiblare of kruie bedruip word, indien vinkel nie na jou smaak is nie.
*Dit is baie elemente om op die bord te kry, maar alles kan ‘n dag voor die tyd gemaak word en net voor opdiening verhit word.
1. Voorverhit oondrooster tot 260ºC.
2. Los suiker en sout in warm water op, genoeg water om hoenderborsies te bedek.
3. Gooi dan ysblokkies daarin om vinniger af te koel.
4. Wanneer koud, plaas hoender in mengsel en laat lê vir ‘n uur.Spoel dan af en plaas op ‘n droograkkie.
5. Plaas ‘n ½ koppie klam “smoking chips” in ‘n foeliebak en plaas op vlam. Waneer die “smoking chips” opgehou stoom het en begin rook, plaas dan die hoenderborsies wat op die droograkkkie is net so in die foeliebak en bedek met foelie. Rook dit vir 8-10 minute. Sny ‘n stuk oop om te kyk of dit gaar is. Anders laat dit nog rook. As die “smoking chips” nog klam is wanneer jy die hoender insit sal die borsie droog wees. Dit moet ophou stoom anders gaan die borsie droog wees!
Mieliekoek
1. Kook polenta, water en sout saam tot amper gaar.
2. Sny dan die milliepitte van die stronk af en voeg by die polenta vir die laaste rukkie se kook.
3.Voer ‘n broodpan uit met kleefplastiek, en gooi die polenta daarin. Plaas in vrieskas dat dit
Solank kan afkoel.
Beet en beetstroop
1. Kook die beetjies in die asyn, water en suiker mengsel tot jy ‘n klein messie maklik daar kan deurdruk.
2. Haal die beet uit, laat afkoel en skil af.
3. Terwyl die beet afkoel kan jy die beet se mengsel solank afkook om ‘n stroop te vorm.
4. Plaas die beet dan daarin en hou eenkant.
Aspersies
1. Verhit ‘n kastrol met kookwater. Hou ‘n bak met yswater byderhand.
2. Blansjeer aspersies vir 30 sekondes, haal uit en plaas dadelik in die yswater. Haal uit sodra dit afgekoel is. Maak die aspersies droog en hou eenkant vir later.

Knoffel
Sny die punt van die knoffelbol oop, drup ‘n bietjie olyfolie daarop. Sprinkel sout en peper oor en geur met ‘n vars tiemietakkie. Draai toe in tinfoelie en bak in warm oond (180C) vir ongeveer 45 minute. Verhit intussen ‘n swaar riffelpan vir die polenta.
Hoendervel en afronding
1.Smeer die borsvelle met botter, sout en peper en oondrooster tot goudbruin. Pasop vir brand ± 5 minute.
2. Kook water en voeg dan die res van die bestanddele by. Roer tot suiker opgelos is en gooi dan deur ‘n sif.en laat mengsel afkoel.. hou eenkant om later as ‘n slaai pekel te gebruik.
3. Haal polenta uit die vrieskas, smeer liggies met olie en plaas op ‘n riffelpan. Braai vir ‘n paar minute tot riffels duidelik sigbaar is op polenta.
4. Solank polenta braai, verhit solank al jou ander elemente. Die hoender kan vining vir twee minute in die oond gesit word.
5. Verhit solank weer die beet.
6. Verhit ‘n vlak pan met bietjie botter en braai aspersies daarin, vir 30 sekondes.
7. Dien op: Plaas polenta-mieliekoekie in die middle van die bord, plaas gerookte hoenderborsie bo-op en die bros gebraaide hoendervel bo-op die borsie.
8. Plaas drie klein beetjies ewe ver van mekaar af op elke bord.
9. Plaas dan 5 aspersies opl elke bord tussen die beet.
10. Drup van die beetstroop rondom die bord.
11. Plaas dan van die gepekelde vinkel langs die polentakoekie en drup ‘n bietjie van die pekelsous oor die hoenderborsies.
12. Haal die knoffel uit hulle skille en plaas drie huisies op elke bord. Die knoffel sal nou soet en gekaramelliseerd wees.