Wednesday 23 April 2014

Elma Holt se Vinnige Boontjiesop




Elma Holt se Vinnige Boontjiesop
(vir 4 mense):

1. Neem ’n pakkie spekvleis (250 g) en een of twee gekapte uie en braai dit saam.

2. Gooi dan twee 410 g-blikkies boontjies in tamatiesous (baked beans) by die uie en spek. Jy kan die boontjies fyn druk as jy wil.

3. Neem ’n pakkie bruin uiesop en maak dit aan in 850 ml water en gooi dit by. Geur dit na smaak met sout en peper, maar onthou, die uiesop is klaar souterig.

Of jy kan enige geurmiddel bygooi, soos blatjang, soetrissiesous, rooipeper of rissies. Laat die spulletjie kook en siedaar – 10 minute later het jy ’n heerlike pot boontjiesop.

As die sop nie dik genoeg na jou smaak is nie, maak dit dikker met 1 of 2 eetlepels Maizena wat in ’n bietjie melk of water opgelos word. As daar skielik nog mense opdaag, vul die pot aan met nog ’n blikkie of twee boontjies en water en geur net weer. As jy oorskietvleis het, kan die spekvleis met omtrent enigiets vervang word.