Thursday 6 March 2014

LIGTE POF OMELET




LIGTE POF OMELET

2 eiers, geskei
30ml melk of room
knippie fyn neutmuskaat
vars gemaalde peper
knippie sout
15ml botter

Voorverhit die oond tot 180C. Klits eiergele 30 sekondes lank met ‘n draadklitser tot goed gemeng. Klits die room of melk, neutmuskaat en peper by. Klits die eierwitte en ‘n knippie sout tot styf, maar nie droog nie. Skep die styfgeklitste eierwitte by die eiergeelmengsel in en vou dit liggies daarby in. Smelt die botter in ‘n swaarboompan en giet die eiermengsel daarin. Braai die omelet totdat die onderkant goudbruin is en amper gaar is- ongeveer 4-6 minute lank. Plaas die pan op die middelste oondrak en bak 4-6 minute lank in die voorverhitte oond totdat dit gestol en ligbruin is.

Gebruik wat beskikbaar is vir 'n vulsel van jou keuse:

Spinasie-en-fetavulsel
Was 300 g spinasie en stoom tot verlep. Druk alle vog uit en kap fyn. Hou eenkant. Smelt 30 ml botter en voeg 30 ml meel by. Verhit tot dit borrel. Voeg 300 ml warm melk geleidelik by en verhit, terwyl geroer word, tot kookpunt. Geur met sout en peper. Prut liggies tot verdik en gaar. Voeg die spinasie by en krummel twee wiele fetakaas by. Skep op die omelette. Genoeg vir 2 omelette.

Spekvleis-en-sampioenvulsel
Snipper ½ pak spek en braai dit saam met 1 fyngedrukte knoffelhuisie tot gaar. Voeg 125 g gesnipperde sampioene by en braai tot gaar. Geur met sout en peper. Sprinkel 30 ml koekmeelblom oor en verhit tot dit borrel. Voeg 300 ml warm melk by en verhit, terwyl geroer word, tot kookpunt. Prut tot verdik en gaar. Skep op die omelette, rasper cheddarkaas oor en vou toe. Sit dadelik voor. Genoeg vir 2 omelette.