Tuesday 11 February 2014

Spesiale Valentyns Ete




Spesiale Valentyns Ete:

Die ekonomie trek swaar, dus hoekom uiteet, maak 'n spesiale ete sonder moeite en dek 'n romantiese tafel.

Spanspekslaai...
1 spanspek, in blokkies gesny
450 g tamaties, geskil, die pitte verwyder en in kwarte gesny
1 komkommer, in blokkies gesny
1 eetlepel pietersielie, gekap
1 teelepel grasuie, gekap
1 teelepel kruisement, gekap
knippie sout

Meng die vrugte en groente, gooi Franse slaaisous oor, bedek die bak en plaas in die yskas vir 3 ure.

Meng die kruie en sout by net voor opdiening.

Wenk: Bedien in sopkoppies of klein, diep bakkies met 'n soplepel.

Spek en Kaas Quiche

Broskors
250 g koekmeel, gesif
5 ml sout
125 g koue botter, in blokkies gesny
1 eier, geklits
20 ml yswater
10 ml suurlemoensap

Vulsel
1 ui, fyn gekap
125 g spekvleis, fyn gesnipper
3 eiers
2 eiergele
250 ml room
250 g Gruyere-kaas, gerasper

Deeg: Meng die meel en sout en vryf botter met jou vingerpunte in tot krummelrig. Klits eier, yswater en suurlemoensap saam en sprinkle oor die gekrummelde mengsel. Sny in met 'n mes tot klam krummels vorm wat aan mekaar begin vassit. Druk krummels bymekaar en vorm 'n bal. Draai toe in kleefplastiek en verkoel vir minstens 30 minute. Voorverhit die oond tot 200 °C. Rol die deeg uit op ?n meelbestrooide oppervlak en voer 'n tertbord van 24 cm daarmee uit. Voer uit met bakpapier en 'n mengsel van droë bone en rys. Blindbak vir 10 minute, verwyder die papier en bonemengsel en bak vir nog 5-7 minute tot die basis van die deeg droog is. Haal uit die oond en verlaag die temperatuur tot 170 °C.

Vulsel: Braai die uie en spek saam tot gaar. Klits intussen die eiers, eiergele, room en kaas saam. Geur na smaak. Skep die ui-en-spekmengsel in die tertkors en giet die eiervla versigtig oor. Bak vir ongeveer 30 minute tot ferm. Haal uit die oond en laat afkoel tot louwarm. Sit voor met slaai. Genoeg vir 8-10 mense.

NAGEREG:

Suurlemoentert

een blikkie kondensmelk
gerasperde skil van een suurlemoen
½ koppie suurlemoensap
2 eiers, geskei
2 eetlepels suiker
een gebakte kors of krummelkors

Meng kondensmelk, suurlemoenskil, sap en eiergele saam. Gooi in kors. Klits die eierwitte styf met suiker en smeer bo-oor. Bak by 180ºC vir ± 10 minute.