Tuesday 11 February 2014

Plant Tamaties





Plantwenke
• Plant saailinge in ’n lekker sonnige kol.
• Berei die grond goed voor met kompos en ’n bietjie 2:3:2.

• Plant u tamatiesaailinge in rye 30-40 cm van mekaar. Maak die saailinge goed nat, maar moet dit nie verdrink nie – tamaties hou nie van te veel vog om hul wortels nie. Probeer om nie die blare nat te maak nie, want dit maak die plante meer vatbaar vir swaminfeksies.


• Tamaties het ’n rankerige groeiwyse en sal baat by ’n raamwerk om die plant te stut en waarteen die sytakke vasgebind kan word. Dit is veral noodsaaklik vir die groter variëteite.

• Sodra die vrugte begin vorm, voed u plante een keer elke twee weke met ’n misstof wat ’n hoë stikstofinhoud het, soos 3:1:5.• Gooi ’n deklaag van strooi om die plant sodat die vruggies wat laag hang, nie in aanraking kom met die grond en die organismes daarin nie.

Kweekwenke
• Hou tamaties deurentyd goed nat.
• Verwyder gereeld sylote namate die plante groei, om ’n netjiese bos te verseker.
• Sodra vrugte begin vorm, moet jy dit elke tien dae met ’n vloeibare kunsmis voed.

Oeswenke
• Hoewel tamaties geoes kan word wanneer dit net begin verkleur, is dit die lekkerste as dit ryp gepluk en dadelik geniet word.
• Ryp tamaties gee mee as jy dit effens druk en dit het ’n merkbare soet geur.

Het u geweet? Tamaties sal gou ryp word as dit binnenshuis op ’n sonnige vensterbank gesit word nadat dit gepluk is.

Peste en plae
• Kyk uit vir witvlieë, plantluise en rooispinnekopmyt. Vermy dié plae deur plante nie te dig opmekaar te plant nie om goeie lugsirkulasie te verseker. Gesels met jou kwekery se personeel oor ’n geskikte organiese plaagdoder.
• Rokers moet hul hande deeglik was voordat hulle aan ’n tamatieplantjie raak, want hulle kan die tabakmosaïek-virus oordra. Dié virus tas die tamatie se blare, blomme en vrugte aan en dit belemmer die groei van die plant.