Thursday 13 February 2014

Mynhardt en Tiaan se Tuisgemaakte pasta met tamatie en frikkadelsous




Mynhardt en Tiaan se Tuisgemaakte pasta met tamatie en frikkadelsous

Daar is in die lewe nie iets meer terapeuties as om pasta self te maak nie. Dit is so eenvoudig en elkeen kan dit self doen. Dit is nog meer romanties om die proses saam met iemand aan te pak. Hierdie is 'n standaard resep wat beproef en onfeilbaar is. 'n Bonus is as jy jou eie hoendereiers kan gebruik en gee gewoonlik die mooiste diep geel kleur aan die pasta. Hier maak ons lekker growwe stukke pasta wat amper soos lasagne lyk en bydra tot die mooi handgemaakte voorkoms. Hoe growwer hoe beter!

Wenk: Wees rustig en gebruik jou tyd. 'n Goeie glas rooiwyn pas ook nou goed in die prentjie en plaas jou dadelik in die regte Italiaanse luim...

Hierdie is 'n tipiese Bolognese vleissous maar met 'n lekker kortpad kinkel. Ons gebruik worsvleis wat al klaar gegeur is. Gebruik jou gunsteling boere wors of worsresep vir hierdie sous. Vir die wis en die onwis sit ons sommer 'n lekker worsresep by vir dié wat tyd het om dit nog self te doen. Tuisgemaakte wors maak natuurlik die wêreldse verskil.

Pasta
• 200g koekmeelblom
• 2 medium eiers
• knippie sout

Om die pasta te maak, verwerk die eiers, meel en sout in ’n voedselverwerker tot krummels vorm. Druk bymekaar om 'n deeg te vorm en laat effe rus tot jy reg is om dit uit te rol.

• 1kg ryp rosa tamaties
• 2 rooi uie, gekap
• sout en peper na smaak
• 2 ansjovisfilette per persoon
• hand vol ontpitte swart olywe
• 1 rissie met pitte, opgekap
• Basilliekruid
• Soyasous na smaak
• 1 kg beeswors
• Parmesaan kaas vir opdieninig

-Braai die uie in bietjie olie en geur met sout en peper. Voeg nou die tamaties by en kook tot 'n lekker sous vorm. Proe nou hieraan - jy sal dalk bietjie suiker moet byvoeg as jou tamaties nie soet genoeg is nie.
-Gooi die rissie, olywe en antjovis by en kook af tot lekker 'n sous vorm. Geur met bietjie soyasous.
-Trek die wors uit die vel en maak balletjies daarmee. Braai in ’n pan met lekker warm olie in tot net afgeseël.
-Voeg dit nou by die tamatiesous en kook tot die vleis net gaar is.
-Rol die pasta uit en sny in papadelle. Kook tot gaar en dreineer. Sit dit binne in die sous en roer deur, maar nie te veel dat die pasta breek nie.
-Breek nou stukkies basillie kruid oor sowel as parmesaan kaasskerwe.

Die Lekkerste Boerewors Resep van Henriëtte Wessels
Die maak van jou eie boerwors is 'n tradisie wat hierdie land aanmekaar gesoom hou. Henriëtte Wessels het hierdie resep geplaas en is voorwaar heerlik. Speel rond met verskillende soorte asyn en pas die speserye aan soos jy wil. Maak ook gebruik van interessante soorte gerookte spek vir 'n lekker kinkel.

• 2kg Beesvleis
• 1kg Varkvleis
• 20g (50ml) Koljander
• 2ml Fyn naeltjies
• 2ml gerasperde Neutmuskaat
• 30g (25ml) fyn sout
• 5ml Varsgemaalde Swartpeper
• 500g Spek
• 100ml Asyn
• sowat 90g Derms

-Berei eers die koljander deur dit te skroei, te maal en te sif.
-Sny vleis in 50mm blokke en meng met die speserye en geurmiddels.
-Maal die vleis en sny spek in blokkies
-Voeg spek en asyn by maalvleis en meng liggies maar deeglik
-Stop derms lossies met die mengsel
-Lewer sowat 3.5kg