Wednesday 12 February 2014

Laat jou rose langer hou




As jy rose gekry het wat ’n ruk nie in water was nie, moet jy dit agt tot 12 uur kans gee om weer vars te lyk.  Met behoorlike sorg behoort jou rose binne die volgende paar dae te blom.
  • As jou rose ’n kwartier of langer uit die water was, sny 2 cm van die stele teen ’n effense hoek af om die opname van water te verbeter. Maak seker jy gebruik ’n skerp mes of skêr en moenie die steel verniel of deurboor nie.
  • Verwyder alle verkleurde blomblare aan die blom se buitenste rand en enige blare of blomme wat onder die waterlyn is.
  • Maak ’n vaas (nie-metaal) vol water en gooi een pakkie blomkos daarin.
  • Die blomme sal langer hou as jy elke tweede of derde dag die stele sny. Maak die vaas skoon, maak vol met skoon water en voeg nog blomkos by.
  • Om jou rose lank te laat hou, moet jy dit uit regstreekse sonlig, hitte en weg van lugversorgers en lugstrome hou.
Geheime resep vir blomkos:
  • 1 e suiker (om jou blomme lewe te gee)
  • 1 t bleikmiddel (om enige bakterieë dood te maak)
  • 1 t asyn (om blomme nuwe lewe te gee)
  • 2 l water
Meng die bestanddele en voeg die nodige hoeveelheid by jou blomme om dit langer te laat hou.

(Huisgenoot)