Wednesday 12 February 2014

Jakes Babbelaas Buster Omelet




Jakes Babbelaas Buster Omelet
Jy het nodig:
’n Pan met ’n deksel...
Twee groot eiers.
Gekerfde beesbiltong
Cheddar-kaas

Tamatieskywe
Italiaanse kruie (Robertson se Italian Herbs werk goed)
Bovril, Oxo of Marmite (opsioneel)

Só maak jy:
1. Braai die gekerfde biltong in ’n pan. Beesbiltong werk lekker, maar enige biltong sal die trick doen. Wanneer jy die beesbiltong braai, ontsluit dit ’n lekker geurtjie. Die woord “ontsluit’’ is baie prentsieus, maar dit beïndruk chicks so die doel heilig die middele.

2. Neem die twee eiers en skei die gele en die eierwit. As jy dit nie kan uitfigure nie… gaan bêre jou karsleutels, handig jou braaitang in by jou plaaslike polisiestasie en gee jou powertools vir die meisie langsaan. En bly weg uit die kombuis!
Klits nou die eierwit apart totdat dit lekker skuim. As dit klaar is, gooi jy die eiergele by en klits vir nog ’n rukkie totdat dit goed gemeng is. Wanneer jy die eierwit apart klits, het jy ’n meer “fluffy’’ en pofferige eiermengsel – en uiteindelik omelet.

3. Gooi die gebraaide biltong in die geklitsde eiermengsel en gooi dan die hele spulletjie in die warm pan. Sorg dat die hitte laag is, anders gaan die omelet brand. Sit dadelik die deksel op sodat die hitte die omelet ook van bo af kan gaarstoom.
Dis een van die geheime van dié omelet: Die biltong is ín die eier, nie bo-op nie. Die Spanjaarde maak ’n soortgelyke gereg wat hulle Tortilla de Patatas noem. Hulle gooi allerhande goed in die eier, van ham tot aartappels.

4. Na ’n minuut of so haal jy die deksel af, pak die tamatie op die omelet, gooi gerasperde cheddar bo-oor, “sprinkel” (chicks is mal oor sulke woorde) die Italian Herbs bo-op en sit die deksel vinnig terug.

5. Na ’n minuut of twee sal die kaas mooi gesmelt wees. As die eiermengsel nog rou lyk, wag dan nog ’n minuut of twee en kyk of dit gaar is. Die deksel bo-op sal help dat die eier gelyk van bo en onder af gaar word.

6. Staan terug soos ’n legende, maak oop die deksel en skep die omelet uit met ’n spaan. Probeer om dit nie op die vloer te laat val nie.

As jy Bovril, Oxo of selfs Marmite het, kan jy dit bo-op die omelet smeer vir daai ekstra vleis- en soutsmaak. Dis goed vir jou babbelaas. Eksperimenteer met hoeveel daarvan genoeg is, want te veel is ook nie slim nie. Altans, nie so slim soos jy die vorige aand was nie.