Wednesday 22 January 2014

Genadendal-melktert





Genadendal-melktert

Maak 2-3 melkterte

Jy benodig:...
Kors (gekoopte blaarkorsdeeg kan ook gebruik word as jy haastig is):
.250g margarien
.1 eiergeel
.½k yswater

.2k meel
.1t kremetart

Vulsel:
.75ml melk vir meng van ­mielieblom en eiers
.1k mielieblom (Maizena)
.5 eiers, geskei
.1t amandelgeursel
.1½t vanielje-ekstrak
.1½ liter melk
.1½k suiker
.185g margarien

Só maak ’n mens:
Vir die kors:
1.Voorverhit die oond tot 190°C.
2.Klits die eiergele saam en meng met yswater. Rasper 60g margarien by 1½koppie van die meel en meng. Voeg die eiermengsel by die meelmengsel en meng goed.
3.Gooi die kremetart by die res van die meel. Rol die meel-en-margarien-mengsel vyf keer uit en gooi telkens ’n bietjie van die ­kremetart-en-meelmengsel by. Rasper nog 60g van die margarien, strooi dit bo-oor die deeg, vou toe en sit in die yskas.
4.Rol ná 15 minute weer uit, rasper weer 60g van die margarien oor, vou toe en sit in yskas. Doen dieselfde tot al die margarien ingewerk is en laat dit weer 15 minute in die yskas rus.
5.Rol die deeg uit en druk in ’n gesmeerde tertpan. Maak ’n patroontjie al om die kante met jou duim of ’n vurk. Die deeg kan ook toegevou en gevries word vir latere gebruik.

Vir die vulsel:
6.Meng die mielieblom, eiergele en geursels met ongeveer 75ml melk om ’n pasta te vorm.
7.Verhit die melk, suiker en margarien tot kookpunt, verwyder van die hitte en klits by die mielieblommengsel in. Meng goed.
8.Klits die eierwitte styf en klits dit dan by die melkmengsel in. Gooi in die tertdeegdoppe en bak
’n halfuur lank.

– Resep uit Skottel en spens. (LeefStyl)